|

#OnsDorp-veldtog: AfriForum dra by tot ’n groener toekoms

AfriForum se Pongola-tak het onlangs tien rooi-essenhoute by die Pongola Akademie en die plaaslike gemeenskapsentrum geplant. Volgens Eugene van Aswegen, distrikskoördineerder van KwaZulu-Natal, het AfriForum vanjaar reeds meer as 2 500 bome landwyd geplant.

“Deur inheemse bome te plant, bewaar ons nie net ons omgewing en maak dit ’n mooier plek om in te bly nie, maar ons wys ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsel of ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron – bome is simbolies van lewe,” sê Van Aswegen.

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n boomspesie wat algemeen voorkom as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2019 is die maroela (Sclerocarya birrea), terwyl die skaars boom die appelblaar (Philenoptera violacea) is. AfriForum moedig sy lede egter aan om inheemse bome te plant wat in hul omgewings aard.

“Elke boom wat ons plant, maak ’n blywende verskil in ons gemeenskap. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer, en die AfriForum-tak in Pongola onderneem om dié sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop vir die toekoms het,” sê Alton Vlok, voorsitter van AfriForum se Pongola-tak.

Die tak moedig die gemeenskap aan om deurgaans inheemse bome in hul dorp te plant en deel te wees van ’n groener toekoms.

Soortgelyke plasings