|

#OnsDorp-veldtog: AfriForum dra by tot ’n groener toekoms

Die AfriForum-tak in Germiston het op 15 Oktober 2019 tien bome by die Prestasieskool in Elspark en die Afrikaanse Hoërskool Germiston geplant. Volgens Elize Hern, voorsitter van AfriForum se Germiston-tak, het AfriForum vanjaar reeds meer as 2 500 bome landwyd geplant.

“Deur inheemse bome te plant bewaar ons nie net ons omgewing en maak dit ’n mooier plek om in te bly nie, maar wys ons ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsel of ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron – bome is simbolies van lewe,” sê Hern.

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n boomspesie wat algemeen voorkom as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2019 is die maroela (Sclerocarya birrea), terwyl die skaars boom die appelblaar (Philenoptera violacea) is. AfriForum moedig sy lede aan om inheemse bome te plant wat in hul omgewings aard.

“Elke boom wat ons plant maak ’n blywende verskil in ons gemeenskap. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en die leerders onderneem om hierdie sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop vir die toekoms het,” sluit Hern af.

Die tak moedig die gemeenskap aan om deurgaans inheemse bome in hul dorp te plant en deel te wees van ’n groener toekoms.

Stuur ’n e-pos na marie.naude@afriforum.co.za om by AfriForum se omgewingsakeportefeulje betrokke te raak.

Soortgelyke plasings