#OnsDorp: AfriForum se Elliot-tak ruim dorp op

AfriForum se Elliot-tak het dié dorp op 7 September 2019 self opgeruim ná die gemeenskap se pleidooie aan die munisipaliteit op dowe ore geval het. Die tak het reeds verskeie skrywes oor die onopgeloste kwessie in die dorp aan Elliot se munisipale bestuurder en burgermeester gerig.

“Die vullistrokke daag al vir twee weke lank nie op nie – ons dorp het soos ’n vullisterrein begin lyk! Ons is dankbaar vir die gemeenskap se betrokkenheid en die skenkings wat ons ontvang het. Saam kan ons ’n beter toekoms skep,” sê Dennis Schmidt, voorsitter van AfriForum se Elliot-tak.

“Gemeenskappe is keelvol daarvoor om vir dienste te betaal wat hulle nie ontvang nie, maar ook omdat die munisipaliteit hul navrae blatant ignoreer,” sê Lize-Mari Smit, distrikskoördineerder vir die Karoo.

Die tak het op 12 September 2019 weer skrywes aan die burgermeester en munisipale bestuurder gestuur om hulle van die naweek se skoonmaakaksie in te lig.

“Die dorp is skoongemaak, maar die trokke werk steeds nie. Ons eis dat die burgermeester en munisipale bestuurder op ons skrywe reageer en hul pligte nakom,” sê Schmidt.

Soortgelyke plasings