|

Ons moet aanhou opstaan vir wat reg is

Daar is ’n spreekwoord wat lui dat ’n mens aan jou vriende geken word. In die geval van ’n land kan seker gesê word dat ’n regering se optrede en ingesteldheid geken word aan die gehalte van sy amptenare wat hy as ambassadeurs in die buiteland ontplooi.

As land was Suid-Afrika die afgelope paar weke egter erg verleë oor die gedrag van twee amptenare – Zindzi Mandela, ambassadeur in Denemarke, en Bruce Koloane, ambassadeur in Nederland.

Ja-nee, landsburgers moes hul koppe behoorlik in skaamte laat sak het oor dié twee gesante se optrede. Mandela het in Junie totaal buite orde opgetree toe sy in ’n reeks Twitter-boodskappe uiters rassistiese en verdelende uitsprake gemaak het deur na wit mense as diewe, verkragters en lafaards te verwys.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het sy misnoeë te kenne gegee en ’n klag van haatspraak teen Mandela by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) gelê. As daar nie tans soveel dubbele standaarde in die land toegepas is nie, sou Mandela teruggeroep en afgedank geword het.

Dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, kon egter net sover kom om Mandela te berispe en daarop te wys dat sy haar soos ’n diplomaat behoort te gedra! Sy het ook nie juis hulp in die persoon van Jesse Duarte, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, gekry wat op haar beurt tot Mandela se verdediging gekom het nie. Duarte het aangevoer Mandela kan nie veroordeel word vir haar uitsprake gegewe wat haar familie aan die hand van die apartheidsregering deurgemaak het nie.

AfriForum is egter reg dat Mandela se “persoonlike opinie” inderdaad ’n algehele gebrek aan insig toon in haar verantwoordelikheid om die beeld van Suid-Afrika te bevorder. Dit strook ook nie met die Suid-Afrikaanse Grondwet wat onomwonde verklaar dat die land aan almal behoort nie.

Die internasionale beeld van Suid-Afrika is ook nou verder in die spervuur met die getuienis wat Koloane pas voor die Zondo-kommissie rondom staatskaping gelewer het.

Hy het sy mag as hoof van staatsprotokol misbruik toe hy toegelaat het dat ’n Gupta-vliegtuig vol bruilofgaste op Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria land.

Die DA meen dit was ’n skending van die land se nasionale veiligheid en die Wet op Nasionale Sleutelpunte. Die party eis dat Koloane onmiddellik as ambassadeur onttrek word.

Pandor het intussen aangedui dat Koloane se lot as ambassadeur eers met pres. Cyril Ramaphosa bespreek moet word voordat ’n besluit geneem word.

Nugter weet hoe lank dit kan neem en gegewe die talle storms wat Ramaphosa op die oomblik ook rondom die Openbare Beskermer moet trotseer, moet die land se beeld maar vir eers verder aan ’n draadjie hang.

Die werklikheid is egter dat die staat nie langer kan toelaat dat korrupte of rassistiese amptenare as ambassadeurs werk nie. Gewone Suid-Afrikaners moet dit ook nie toelaat nie. Dit is een en elk van ons se plig om in landsbelang op te staan en ons uit te spreek teen amptenare wat die land en sy mense se naam deur die modder sleep.

 

Soortgelyke plasings