--> -->
Spyskaart +

Ons hospitale is siek – help AfriForum om hulle ’n inspuiting te gee

Junie 13, 2019 deur Admin

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum

Terwyl Suid-Afrika se privaat hospitale grootliks wêreldklas is en behoorlike dienste aan pasiënte lewer, is ons staatshospitale grootliks in ’n vervalde of vervallende toestand.

AfriForum het sedert verlede jaar ’n toenemende aantal klagtes van mishandeling en wanpraktyke by staatshospitale ontvang. Ek is vroeër vanjaar na ’n tehuis vir bejaardes in Pretoria uitgenooi om na ’n dame se nagmerrie-ervaring by Chris Hani Baragwanath-hospitaal gedurende verlede jaar se Kerstydperk te luister. Weldra het ander bejaarde mense ook opgedaag om hul stories van mishandeling en stiewe behandeling by Pretoriase hospitale te vertel.

Hul verhale het gewissel van bloedbesmeerde toerusting wat gebruik is om hulle te behandel, tot ’n daelange weiering om hulle te bad, tot mense wat as geneeshere optree en verkeerde medikasie voorskryf terwyl hulle nie as dokters gekwalifiseer is nie. Geen van hierdie klaers het toegang tot ’n mediese fonds nie en moet dus op hul oudag van staatsgeriewe gebruik maak. Trouens, slegs 16,8% van die land se bevolking het toegang tot mediese fondse.

In ’n ander geval het ’n man my ook gekontak ná ’n soortgelyke voorval waarby sy vrou betrokke was. Sy vrou is in ’n openbare hospitaal opgeneem en het toe in die nag in ’n badkamer gegly en geval (nadat sy om hulp geroep het, moes die verpleegsters haar eintlik hiermee bygestaan het). Nadat die verpleegpersoneel ’n halfhartige poging aangewend het om haar te help, het hulle haar net daar op die vloer – bedek in ander mense se bloed – gelos. Nadat hy by die hospitaalbestuur gekla het, het hulle beloof om iets daaraan te doen. Niks het daarvan gekom nie.

Deur hierdie vertellinge en die media het dit duidelik geword dat korrupsie, onbevoegde mediese personeel (sekerlik ook ’n gebrek aan bevoegdes), ’n eenvoudige tekort aan deernis, politieke inmenging, ’n gebrek aan verantwoordbaarheid en nog baie meer faktore die openbare gesondheidsektor teister en ondergrawe. Natuurlik is geld ook ’n uitdaging, maar dit sal altyd so wees. Dit verskoon egter nie onbevoegde en gevoellose optrede deur sekere personeel wat dan tot reuse-eise teen veral die Gautengse gesondheidsdepartement ingestel word nie. Dit verskoon nie onbeskoftheid en mishandeling nie.

Dokters en verpleegpersoneel het ’n professionele plig om na te kom, maar baie van hulle versuim hierdie plig. En in hierdie gevalle kan dit tot mense se dood of erge beserings lei.

Asof dit nie erg genoeg is nie, ly die privaat gesondheidsektor onder oorregulering en boelietaktiek deur die regering – waarvan die voorgestelde Nasionale Gesondheids­versekering (NGV). Dit het daartoe gelei dat die privaat sektor, wat ter wille van die burgers die leiding met gesondheidsorg in Suid-Afrika moet neem, se aandeel aan besteding aan gesondheidsorg oor die afgelope twee dekades aansienlik gedaal het. Inmiddels het die staat se aandeel aan gesondheidsorg dienooreenkomstig toegeneem. Terwyl die privaat sektor eintlik veronderstel is om die druk van die oorbelaaide openbare sektor te verlig, is die teenoorgestelde besig om te gebeur. Die staat wil sy onbevoegde tentakels oral inwurm.

’n Bestuurder van ’n privaat hospitaal in die Wes-Kaap het my onlangs vertel die enigste uitdaging wat hulle tans ondervind, is die owerhede wat in hul pad staan om verder uit te brei. Die openbare hospitale in die Wes-Kaap is in menigte opsigte ’n uitsondering op die nasionale reël, maar dit behoort steeds nie ’n remskoen op die privaat sektor se nodige uitbreiding te wees nie. In ander provinsies – waar die staat se vermoë om gesondheidsdienste te lewer, aansienlik gekompromitteer is – kan dit enorme en lewensgevaarlike skade veroorsaak.

En dit is nie asof Suid-Afrika se regering min – in relatiewe of absolute terme – aan gesondheidsdienste bestee nie. Volgens die Wêreldbank bestee die Suid-Afrikaanse regering 8,2% van die bruto binnelandse produk (BBP) aan gesondheid, terwyl die land veel swakker uitkomste het as soortgelyke middelinkomstelande wat minder bestee.

Al die mense wat ons gekontak het, het nie geweet waarheen om met hul klagtes te gaan nie. Om ’n verskil te begin maak aan iets so groot soos hierdie is ’n langtermyntaak, maar ons moet iewers begin. Baie mense kla as individue oor hierdie probleme, maar dan raak ons stemme weg en word geïgnoreer. Dis wanneer ons ons stemme begin saamvoeg wat die veranderinge gaan gebeur.

Dit is hoekom ons ’n veldtog van stapel gestuur het om mense se hospitaalvoorvalle en -tragedies in ’n verslag saam te vat. Die verslag sal ander gegewens oor die gesondheidstelsel ook bevat en direk aan pres. Cyril Ramaphosa se kantoor, sy minister en LUR’e van gesondheid, die media en ook die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) gestuur word. Ramaphosa se postverkiesing-beloftes om verbeteringe aan te bring moet eenvoudig in ’n kritieke veld soos gesondheid neerslag vind.

Hierdie verslag is die eerste stap in die proses om druk toe te pas terwyl nog stappe later sal volg om die gesondheidstelsel te verbeter. Al ruim ons eers net ’n paar vrot appels uit die weg en bewerkstellig daarmee beter verantwoordbaarheid, is dit ’n goeie begin. Die AfriForum-takke gaan byvoorbeeld ook begin help om ten minste vervalle hospitale te verfraai terwyl die Solidariteit Beweging, waarvan AfriForum ’n kerndeel is, besig is met planne om op gesondheidsgebied meer selfstandigheid teweeg te bring.

Indien jy só ’n rillerverhaal het om te vertel, besoek https://www.afriforum.co.za/vertel-jou-verhaal-gesondheidsverslag/ en help ons deur bloot jou storie kortliks te vertel sodat dit in die verslag opgeneem kan word.