|

Ons Dorp-veldtog bied volhoubare oplossings vir munisipale wanbestuur

Die burgerregtewaghond AfriForum se Ons Dorp-veldtog word vandeesmaand by sy sowat 125 takke nasionaal uitgerol, waartydens dorpe regoor die land volhoubare selfdoenaksies in hul gemeenskappe sal loods.

AfriForum het die afgelope paar jaar die selfdoen-beginsel gevestig as ’n teenvoeter vir staatsverval.

Met drie suksesvolle Maand van Selfstandigheid-veldtogte het AfriForum se takke reeds miljoene rande bestee aan die verbetering van dorpe se infrastruktuur en munisipale dienste.

Met die Ons Dorp-veldtog sal AfriForum-takke spesifieke probleme in hul dorpe en gemeenskappe identifiseer en poog om ’n volhoubare oplossing daarvoor te vind. Die aard van die projekte wat uitgerol gaan word, sluit in veiligheidsprojekte, herwinningsinisiatiewe, asook munisipale instandhoudingswerk.

Met sowat 78 van die 100 grootste munisipaliteite wat tans basies bankrot is, is dit vir AfriForum vanjaar veral belangrik om dorpe te bemagtig om self in te tree daar waar munisipaliteite versuim om hul pligte na te kom.

Kimi Makwetu,  Ouditeur-Generaal (OG), se munisipale ouditverslag vir 2016/17 dui daarop dat munisipaliteite beduidend ten opsigte van oudituitkomste verswak het.

Luidens die verslag beloop provinsies soos die Vrystaat se onreëlmatige uitgawes tot R675 miljoen. Slegs 16 munisipaliteite se oudituitkomste het verbeter, terwyl 45 versleg het. Onreëlmatige besteding het oor die algemeen met 75% verhoog.

Die OG het ook pertinent uitgewys dat plaaslikeregeringsfere duidelik versuim om verantwoordbaarheid te bevorder en dat daar nie gevolge vir wanbestuur is nie. “Sonder verbeterde fiskale dissiplines vir die meer doeltreffende en ekonomiese gebruik van hulpbronne, sal munisipaliteite se finansiële situasie en dienslewering aanhou om agteruit te gaan,” meen Makwetu.

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum, sê daar word bloot geen ag op die OG se advies geslaan nie.

“Die OG het die swak bestuur van munisipaliteite prominent en prontuit in sy jongste ouditverslag gestel. Hierdie uitlatings strook ook met wat Nhlanhla Nene, minister van finansies, asook Zweli Mkhize, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, sedert die begin van die jaar oor probleme in die plaaslikeregeringsfeer sê. Niemand kan hierdie krisis langer ontken nie.”

Brink voer voorts aan dat provinsies wat deur die ANC op provinsiale en munisipale vlak gedomineer word, veral verswakking vertoon.

“Dit is simptomaties van die ANC se korrupsie, wanbestuur en swak beleide soos kaderontplooiing. In KwaZulu-Natal het 13 munisipaliteite se oudituitslae versleg, terwyl sewe in die Vrystaat verswak het en geen munisipaliteit daar verbeter het nie. Tog is Ace Magashule, onder wie se premierskap die Vrystaat hierdie agteruitgang ervaar het, vandag die ANC se sekretaris-generaal.”

Volgens Johan Weber, hoof van gemeenskapstrukture by AfriForum, is die antwoord vir munisipale kwale dat gemeenskappe self verantwoordelikheid vir hul dorpe neem eerder as om vir die staat te wag om dienste te lewer.

“AfriForum wil met die uitrol van die Ons Dorp-veldtog deur gemeenskapstrukture ’n volhoubare verskil in dorpe maak en hulself posisioneer vir groter selfbestuur inisiatiewe.”

AfriForum het ook vroeër met sy Knak Korrupsie-veldtog begin om korrupsie op plaaslikeregeringsvlak uit te roei.

Wico Swanepoel, regsadviseur: plaaslike korrupsie en adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, besoek tans takke landwyd waar opleiding gegee word oor hoe gemeenskappe korrupsie kan help stuit.

Soortgelyke plasings