Ons Dorp-veldtog: AfriForum se Kempton Park-tak loods volhoubare herwinningsprojek


AfriForum se Kempton Park-tak het op 29 Mei 2018 as deel van dié organisasie se Ons Dorp-veldtog ’n langtermynherwinningsprojek van stapel gestuur. Hierdie projek word in samewerking met M.E.S. (Mould, Empower and Serve), ’n niewinsgewende organisasie wat op werkskepping vir hawelose mense in Kempton Park fokus, geloods. Dié projek gaan vir die volgende 12 maande in omheinde gemeenskappe (gated communities) en plaaslike skole in Kempton Park uitgerol word.
Die plaaslike AfriForum-tak het reeds in 2017 die behoefte aan ’n herwinningsprojek in dié dorp geïdentifiseer. Ná verskeie vergaderings met sowel M.E.S. as die voorsitters van die onderskeie omheinde gemeenskappe is die eerste herwinningseenhede in Van Riebeeck Estate geplaas. Verdere eenhede gaan op ’n maandelikse basis in ander omheinde gemeenskappe, asook by skole geplaas word. Die M.E.S.-bestuur gaan weekliks vullis verwyder en die vergoeding wat vir die herwinning ontvang word gebruik om werk vir hawelose mense in Kempton Park te skep.

“Die herwinningseenhede is dromme wat spesiaal ontwerp is om esteties en omgewingsvriendelik te wees. Dié projek is uniek in ons gebied en ons hoop om dit ook na ander dorpe aan die Oos-Rand uit te brei,” se Gerald Britt, voorsitter van die omgewingsakeportefeulje van AfriForum se Kempton Park-tak
“Hierdie projek speel nie bloot ’n belangrike rol in herwinning en die bevordering van ’n skoon omgewing nie; die werkskepping wat hopelik daaruit gaan voortspruit sal ook die misdaadvlak help beperk,” voeg Aloma Swanepoel, woordvoerder van M.E.S., by.
“Die projek is ’n uitstekende voorbeeld van gemeenskapslede en organisasies wat proaktief optree om hul dorpe skoner en veiliger te maak,” sluit Marie Naude, AfriForum se distrikskoördineerder vir Gauteng-Suid, af.

Dra by tot jou skoner en veiliger dorp: SMS “Herwin” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings