Ongeveer 150 beeste word geskut na poging tot ’n grondgryp


AfriForum, in samewerking met ander organisasies en owerhede, het op Donderdag 7 Maart 2019 ongeveer 150 beeste op ’n plaas naby Vaalwater geskut. Dít volg nadat ’n betreder die plaas se drade en kettings geknip het om ’n trop beeste vir weiding daar in te jaag, waarna die boer deur die betreder meegedeel is dat die grond aan die staat behoort en aan die betreder toegeëien is.

’n Helikopter is vroegoggend ingespan om die beeste op aangrensende plase op te spoor en bymekaar te maak. Vragmotors is gebruik om al die beeste op te laai en na die skut in Potgietersrus te vervoer. Boere uit die gemeenskap – van so ver as Ellisras, Matlabas en Nylstroom – het bystand met dié taak verleen.

Volgens Llewellynn Hemmens, AfriForum se assistentveiligheidskoördineerder vir die Noordstreek, het baie van die beeste meer as een brandmerk gehad en sommiges was glad nie gemerk nie. “Dit is onwettig vir ’n bees om verskillende brandmerke te hê en ons het daarom ’n sterk vermoede dat heelwat van die beeste gesteel is. Boere wat moontlike eienaars kan wees is reeds hiervan in kennis gestel en hulle is versoek om die beeste by die skut te gaan uitken. AfriForum dring ook daarop aan dat die SAPD ’n deeglike ondersoek na aanleiding van die saak instel.”

Die betreder wie se beeste geskut is, staar ernstige finansiële implikasies in die gesig in verband met kostes, per bees, vir die tydperk wat die beeste by die skut staan. Verder sal dié persoon ook verantwoordelik gehou word vir die vervoerkoste wat die eienaar van die plaas moes aangaan om die beeste te verwyder, asook die moontlike verlies aan weiveld wat die betreder se beeste op sy plaas veroorsaak het.
Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo, sê hulle beskou dié betreder se gedrag as ’n kreatiewe poging tot ’n grondgryp. “Die wyse waarop die betreder okkupasie tot die grond probeer bekom het, is uiters agterbaks en boonop onwettig.”

Hemmens het verder bygevoeg dat die hantering van die situasie baie goed deurdink en georganiseerd was, ten spyte van die SAPD se swak optrede en traagheid. “Die gemeenskap se spoedige optrede het gehelp dat die probleem sonder enige konflik opgelos kon word. Ons het ook seker gemaak dat die regte prosedures tydens dié aksie gevolg is en dat dit aan alle wetlike aspekte voldoen het.”

AfriForum moedig boere aan om ten alle tye van hul omgewing bewus te wees en so spoedig moontlik hul naaste polisiekantoor en veiligheidstrukture van enige soortgelyke voorvalle in kennis te stel.

Soortgelyke plasings