|

‘Oneerlike’ OB moet haar tasse pak

Dit lyk of adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), se dae getel is.

Dit sal wel die geval wees indien opposisiepartye en burgerregte-organisasies hul sin kry dat sy onmiddellik bedank nadat die Konstitusionele Hof verdoemende bevindinge teen haar gemaak het. Indien Mkhwebane nie bedank nie, kan net die parlement haar ontslaan. Ingevolge die Grondwet word ’n tweederdemeerderheid daarvoor vereis.

’n Meerderheid regters van die hof het bevind dat Mkhwebane oneerlik en bevooroordeeld was en in kwader trou opgetree het. In ’n interessante wending het hoofregter Mogoeng Mogoeng en nog ’n regter in ’n minderheidsbeslissing egter nie hiermee saamgestem nie.

Die hof het gelas dat Mkhwebane persoonlik aanspreeklik is vir 15% van die Reserwebank se regskoste. Dit spruit voort uit die saak wat vroeër in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor is. Dié hof het ’n strafkostebevel teen haar gemaak in verband met haar verslag oor die Bankorp-reddingsboei. Mkhwebane het in die verslag aanbeveel dat die Reserwebank se mandaat moet verander word en dat die spesiale ondersoekeenheid R1,1 miljard van ABSA moet verhaal nadat die Reserwebank die bedrag in die apartheidsjare as reddingsboei aan Bankorp betaal het. ABSA het Bankorp oorgeneem.

Die hof het ook bevind dat sy “die perke oorskry het” van haar moontlike vrywaring ingevolge die Wet op die Openbare Beskermer in die verregaande regstellende optrede wat sy in Bankorp-verslag aanbeveel het.

Die hofbevinding is nie die enigste swaard wat nou oor Mkhwebane se kop hang nie. Haar ondersoek na skenkergeld wat pres. Cyril Ramaphosa vir sy verkiesingsveldtog gekry het asook ’n skenking van Bosasa, wat met staatskaping verbind word, is ook nou ’n doring in haar vlees.

Sommige politieke ontleders meen Mkhwebane is daarop uit om Ramaphosa te beswadder en hom te ondermyn. Dié siening word verder versterk weens haar beweerde bande met staatsveiligheid, die EFF en ander individue wat met staatskaping verbind word.

Luidens mediaberigte het adv. Paul Hoffman van die organisasie Accountability Now aan die regspraktykraad geskryf en gevra dat daar met dissiplinêre optrede teen Mkhwebane begin word. Die stap is gedoen met die oog op moontlike hofoptrede om haar ook van die rol van advokate te skrap.

Casac, ’n grondwetwaghond meen ook Mkhwebane het die einde van die pad bereik omdat die hof bevind het dat sy basies onder eed gelieg het.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, meen Mkhwebane behoort ook te bedank uit hoofde van wat bleik onbevoegde en onbehoorlike gedrag aan haar kant te wees. Hy het beklemtoon dat die Openbare Beskermer onafhanklik moet wees.

Die Organisasie Teen Belasting (Outa) sê die uitspraak teen Mkhwebane is verdoemend en sy moet haar pos ontruim.

Die DA se John Steenhuis en dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het gesê Mkhwebane is nie geskik vir haar amp nie en in wese eintlik erg onbevoeg.

Regskenners het ook op haar onbevoegdheid gewys nadat sy gesê het sy gaan moontlik teen die uitspraak appèl aanteken, terwyl dit nie moontlik is nie aangesien dit ’n uitspraak van die Konstitusionele Hof is.

 

 

Soortgelyke plasings