|

Ondanks bestaanskrisis bly Afrikaners trots en gedrewe

Om te eet is nie vandag so vanselfsprekend as wat baie mense aanvaar nie. Afrikaner-armoede is ’n werklikheid wat by die dag groter word.

Volgens Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Helpende Hand, voed die organisasie daagliks 8 000 kleuters en die nood word groter. Vir 35% van hierdie kinders is dit hul enigste maaltyd per dag en kom hulle die volgende oggend honger skooltoe.

Hy het by die Solidariteit Beweging se Toekomsberaad gesê: “Ons kan nie die toekoms tegemoet gaan as ons nie die kwesbare mense in ons gemeenskappe raaksien en na hulle omsien nie.

“Daarom is oudpres. Paul Kruger se woorde op 29 Junie 1904 vandag weer waar. Hy het gesê: ‘Veel van wat opgebou is, is tans vernietig, verval en vervalle. Maar met eenheid van wil en eenheid van kragte kan daar weer opgerig word wat tans in die stof lê.’”

Volgens Noëth wil Helpende Hand in die toekoms die departement van maatskaplike werk vir die Afrikaner word. “Nie omdat ons wil nie, maar omdat ons moet.”

Hy het na verskeie projekte verwys waarmee Helpende Helpende besig is om mense te bemagtig, weer op te bou, te voed en te versorg.

Daar is byvoorbeeld die studiefondsentrum waaruit studente gehelp word om te studeer. In 2015 word R25 miljoen verdeel vir die jaar en in 2019 is dit sowat R41 miljoen. Die droom was om teen 2020 ’n  studiefonds van R160 miljoen te bou. Dit staan tans op R185 miljoen.

Die Stophonger-projek is spesifiek om fondse in te kry vir die versorging van kinders en met die Helpjag-projek is vanjaar 23 ton vleis verdeel.

Die Tassie-projek het gesorg dat 5 000 tassies aan behoeftige gr.1’s uitgedeel kon word. Helpende Hand het ook twee projekte wat op vroue fokus naamlik die HelpHetta-projek. Met dié veldtog word gepoog om die lewe van meisie-wees makliker te maak deur sanitêre waarde beskikbaar te stel. Saam met HelpHetta is ook ’n Frouevonds begin wat fokus op opleiding en die hantering van armoede in die lewens van jong meisies en vroue.

Helpende Hand het tans 150 takke in 10 streke wat daarop gefokus is om die funksionering van aktiwiteite so doelgerig en vaartbelyn moontlik te maak. Daar is groot planne om dit en die projekte in die volgende dekade uit te brei.

Die plan is om die takke van 150 na 190 te groei, terwyl die ondersteuners van 40 000 na 60 000 sal toeneem. Die Ons Winkel-projek gaan ook van 50 winkels na baie meer uitbrei.

Dr. Danie Langner, hoof van die FAK, het in sy aanbieding gesê vandag (10 Oktober) is ook Heldedag. “My boodskap vandag is ondubbelsinnig: Ek is ’n Afrikaner en ek is trots op my helde.

“Ons as Afrikaners is vir die soveelste keer in ons geskiedenis in ’n bestaanskrisis. Maar die geskiedenis wys ook dat ons nie skrik vir krisisse nie. Ons is steeds hier en maak ’n verskil in die land en kontinent.”

Langner sê daar gaan altyd mense wees wat beswaard en moedeloos sal wees en meen ons planne is te klein vir ons probleme. Maar dit geld nie almal nie. “Ons het langs kombuistafels met pap en boeretroos geleer dat die belangrikste graad in die lewe ruggraat is. Daarom gaan ons nie lê nie. Ons het vandag duisende onbaatsugtige helde wat op die regte tyd die regte ding doen en vir wie ons baie dankbaar is. Die krag van hierdie helde en hul diensbaarheid in skole, gemeenskappe, ouerhuise en sakeondernemings kan nie ontken word. Ons vlae kan gestryk word, die note van ons kultuurliedere kan stilgemaak word en ons simbole kan tot argiewe verband word. Ons gaan egter aanhou en vasbyt.”

 

 

 

Soortgelyke plasings