--> -->
Spyskaart +

Onbevoegde staatsaanklaers ondermyn die strafregstelsel

Julie 16, 2013 deur Nantes Kelder

Klap my maar teen die kop maar sekere dinge verstaan ek glad nie.

Gedurende Julie 2011 word ʼn gesin van Montana in die noorde van Pretoria in hul huis aangeval deur ʼn rowerbende. Die verdagtes word gearresteer nadat die pa van die gesin self speurder gespeel het en geen steen onaangeroer gelaat het om die misdadigers op te spoor nie.

Dit het later geblyk dat een van die beskuldigdes in die saak die broer is van die tuinier wat geruime tyd vir die gesin gewerk het. Albei beskuldigdes was die afgelope 2 jaar verhoorafwagtend, en dit blyk ook dat albei beskuldigdes in die verlede al tronkstraf uitgedien het vir geweldsmisdade.

Die saak is vir 11 Julie 2013 op die rol geplaas, getuies is gedagvaar en hulle het by die hof opgedaag omdat die saak vir hulle belangrik is.

Groot was die gesin se skok toe hulle in kennis gestel is dat die beskuldigdes kwansuis “per ongeluk” deur die staatsaanklaer vrygelaat is. Hoe op aarde word geharde misdadigers “per ongeluk” vrygelaat?

ʼn Studie wat gedurende 2012 deur die RGN onderneem is, het bevind dat die helfte van die Suid-Afrikaanse publiek nie vertroue in die strafregstelsel het nie, wat beteken dat een uit twee mense hul vertroue in die stelsel totaal verloor het. Wat ʼn skande!

Bowendien is daar ʼn gesin wat nou in vrees lewe. Dit laat ʼn mens wonder hoeveel sulke gevalle is daar waarvan ons nie bewus is nie.

O ja, en moenie die belaglike verskoning vir die fout vergeet nie: Dit is omdat die opdrag in Afrikaans was en die aanklaer Engelssprekend is, dat misdadigers nou vry is. Lagwekkend!

Wat is die oplossing? Ek weet nie – dalk om aanklaers beter op te lei vir die beroep, dalk is ʼn beter keuringsproses nodig. Die probleem is dat goeie aanklaers opgeraap word deur die privaat sektor en eerder gaan praktiseer as prokureurs.

AfriForum het die Nasionale Vervolgingsgesag gevra om die aangeleentheid te ondersoek. Maar dit kan nie die feit omkeer dat ʼn gesin nou in vrees leef nie of dat soortgelyke voorvalle gaan voorkom nie.

Ek het nie ʼn antwoord vir die staat se onbevoegdheid nie, maar dat die publiek se vertroue in die Strafregstelsel herstel moet word, is beslis ʼn feit soos ʼn koei!