Omgewing nie politieke speelveld – AfriForum dien kommentaar in op wysiging van Nasionale Omgewingbestuurswetsontwerp


Die burgerregte-organisasie AfriForum het op 19 April kommentaar by die departement van omgewingsake ingedien rakende die finalisering van die wysiging van die Nasionale Omgewingbestuurswetsontwerp (NEMA).
Dít volg nadat die departement openbare kommentaar vir die wysiging van hierdie wetsontwerp oopgestel het.
AfriForum se kommentaar sluit die volgende in:

  • Die bepaling dat die volle deelname van swart professionele persone bevorder moet word, is kommerwekkend. AfriForum is van mening dat alle aanstellings op meriete moet geskied en dat die omgewing té waardevol is om ’n politieke speelveld te word. AfriForum wil ook meer duidelikheid hê oor wat hierdie “bevordering” beteken, asook hoe dit geïmplementeer en gemeet gaan word;
  • AfriForum ondersteun die wysiging dat omgewingmagtigingsaansoeke en enige lisensie of permit wat ingevolge ’n omgewingsbestuurswet vereis word, gelyktydig ingedien kan word, maar erken dat die doeltreffende implementering van hierdie wysiging aansienlike veranderinge aan huidige administratiewe stelsels in regeringsfere sal vereis;
  • AfriForum ondersteun die wysiging dat ’n aansoeker en houer van omgewingsmagtiging met betrekking tot mynbedrywighede finansiële voorsiening moet maak vir progressiewe rehabilitasie, versagting, remediëring, mynafsluiting en die bestuur van omgewingsimpakte ná die sluiting van mynaktiwiteite. AfriForum het wel uitgelig dat die wetsontwerp nie verduidelik hoe hierdie fondse geadministreer sal word nie om te verseker dat dit vir die beoogde doel gebruik word;
  • AfriForum verwelkom die wysiging dat omgewingbestuursinspekteurs se magte om ondersoeke in te stel, verbreed word; en
  • AfriForum verwelkom die wysiging dat die SAPD bemagtig word om die nakoming van omgewingswetgewing te moniteer.

SMS jou naam na 45354 (R1) om hierdie AfriForum-aksie te ondersteun.

Soortgelyke plasings