--> -->
Spyskaart +

OM TOT ’N TAAL IN TE STEM

Januarie 23, 2017 deur afriministrator

chris-chameleon-rozier-web

Deur: Chris Chameleon

“I Want to Break Free” het dit. “Bohemian Rhapsody” het dit. “Hotel California” het dit. “Stairway to Heaven” het dit. Ja, selfs “Soos Bloed” het dit. Ikoniese liedere, verewig deur die wyse waarop hulle ’n tydlose emosie vasgevang het en tot die gees van groot menigtes spreek. Elkeen van hierdie liedere het ’n kitaarsolo wat in sy klank, styl en melodie so kenmerkend is dat by die aanhoor van slegs ’n paar note (of net een noot as jy een van daardie Noot vir Noot uitblinkers is!) hulle dadelik herkenbaar is en die hele lied in ’n ommesientjie by die luisteraar kan tuisbring.

Gedurende die afgelope 26 jaar het ek reeds meer as 20 albums opgeneem. Die ateljee is vir my aan die een kant ’n blywende, onpeilbare geheim; aan die ander kant ’n ervaring so bekend soos ’n ou vriend. Met elke opname leer ’n mens iets nuuts by en sien jy hoe ou lesse en waarhede hulself keer op keer herbevestig.

Kitaarspelers is ’n interessante spesie – meestal fyn besnaard en ouditief besonder sensitief. Kenmerkend van meeste gerekende kitaarspelers is die verskeidenheid kitare wat hulle besit. Hulle kom soms ateljee toe met vyf kitare, soms met selfs meer. Die kitare lyk vir ’n leek almal min of meer eenders en ’n mens moet mooi luister om die verskille in hul klank te kan hoor. Die keuse van kitaar is nie ’n besluit wat ligtelik gemaak word nie. Daar word soms ure getokkel, verstel en weer getokkel om die gewenste klank te kry. Selfs die presiese maak en kaliber van die snare word in ag geneem.

Stel jou voor die voortreflike kitaarsolo vir “Stairway to Heaven” was gespeel op ’n 1959 Vega Banjo in plaas van die 1959 Fender Telecaster wat Jimmy Page gebruik het. Vra jouself af of die lied dan nog ’n legendariese treffer sou wees? ’n Snaar is ’n snaar en ’n kitaar is ’n kitaar, maar elkeen het ’n spesifieke klank wat ’n spesifieke emosie wek. Elke kitaar het sy eie tegniese voor- en nadele, tekortkominge en sterkpunte. Om enige van die bogenoemde kitaarsolo’s met iets wat min of meer dieselfde is te vervang, is soos om die Beatles se ‘She loves you yeah, yeah, yeah’ te verander na ‘She loves you ooh, ooh, ooh’ en te verwag dit moet dieselfde impak hê.

Gholfspelers, tennisspelers, renjaers en selfs die vierjaarlikse gekibbel en gekyf oor die soort rugbybal wat vir die wêreldbekertoernooi gekies word, bevestig keer op keer dat elke instrument ’n wesenlike invloed op die uitvoering van die taak het, dat dit die uiteindelike resultaat fundamenteel beïnvloed en dat diegene wat hulle op die hoogste vlak daarmee besig hou, deeglik bewus is van hierdie verskille.

Taal is ’n instrument. Dis een van die magtigste instrumente aan die mens bekend. Dis ’n instrument wat nie net – soos musiekinstrumente – die siel roer nie, maar ook soos spiese, byle en gewere beskawings tot in hulle kern geruk en beweeg het. Die mag van die son en die teerste vlerkies van kuikens word daarmee beskryf. Die onnoselste populistiese uitsprake word daarin bedryf en die diepste filosofieë ook. Taal is die instrument wat ons kan leer hoe om ’n papiervliegtuigie te vou of om ’n hart oor te plant, of om olie uit steenkool te tap en ruimtereise uit te voer. Elke taal het sy eie deugde; sy eie tekortkominge. Tale is ook wat sommige dinge betref wedersyds uitsluitlik, soos wat elke kopkrappende vertaler al moes erken by die vertaling van idees, literatuur of handleidings van een taal na ’n ander.

Ten einde die mensdom op te hef, te verbreed, te verfyn en tot ’n meer gesofistikeerde hoedanigheid aan te por, het ons meer kitare en tale nodig – nie minder nie.

Daarom dat ek aan die mense wat hulle beywer vir die afskaffing van Afrikaans, of enige ander taal as onderrigtaal by Suid-Afrikaanse universiteite, die uitdaging wil rig om eers vir ten minste ’n jaar lank na slegs ’n 1959 Vega Banjo te luister en dan te besluit.

Chris Chameleon is ʼn Suid-Afrikaanse musikant, liedjieskrywer en akteur.