|

Nylstroom-inwoners positief oor verdieping van Donkerpoortdam

Inwoners van Nylstroom is positief oor die moontlike verligting wat die verdieping van die Donkerpoortdam, dié dorp se hoofwaterbron, vir die omgewing se huidige waterkrisis kan bring.

Dít volg nadat die AfriForum-tak in Nylstroom verlede week vir een dag se addisionele werk betaal het om die kapasiteit van die dam te vergroot. Jaco Vosloo van M & T Grondverskuiwings, grondeienaars en ander belanghebbendes soos die Waterberg Sakekamer het ook bydraes tot die verdieping gelewer.

Hoewel reënval oor die feesseisoen plek-plek verligting in sekere dele van die land gebring het, is daar steeds talle dorpe wat gebuk gaan onder die droogte. Volgens Tjaart du Plessis, voorsitter van AfriForum se Nylstroom-tak, maak dié droë omstandighede juis die verdieping van die Donkerpoortdam moontlik omdat dit feitlik leeg was.

“Die verdieping van die dam beteken dat dit nou groter volumes water kan dra sonder enige bykomende verdamping. Ons is baie positief oor die impak wat dit gaan hê om verligting te bring vir ons dorp se waterkrisis.”

Chris Boshoff, AfriForum se streekskoördineerder vir Limpopo, sê dat AfriForum met die aangaan van hierdie onkoste verseker dat daar ongeveer een megaliter ekstra water vir Nylstroom-inwoners beskikbaar sal wees. Dit is gelykstaande aan tweehonderd 5 000 liter-watertenks.

Volgens Du Plessis het die Nylstroom-omgewing verlede naweek reën gehad en is daar reeds ʼn klein hoeveelheid water in die dam opgegaar. Hy sê voorts dat die AfriForum-tak in Nylstroom ook beplan om ander projekte deur die loop van die jaar uit te rol om verdere droogteverligting vir inwoners te bring.

Sluit aan by AfriForum deur die woord “Tak” na 45340 te SMS (R1).

Soortgelyke plasings