|

NWU-visekanselier se antwoorde “onbevredigend”

AfriForum Jeug is “teleurgesteld” oor die “onbevredigende antwoorde” wat prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU), gegee het in reaksie op ’n brief wat hulle aan hom gerig het oor die hantering van ontgroeningsvoorvalle op verskillende kampusse van die instelling.
AfriForum Jeug het op 2 Junie ’n brief aan Kgwadi en die universiteitsraad gestuur waarin inligting versoek is oor ’n beweerde ontgroeningsvoorval op die NWU se Vaaldriehoek-kampus.

Die voorval, wat glo op ’n ernstige menseregteskenking neergekom het, het by die Jasmyn-dameskoshuis plaasgevind. Dit het reeds verlede jaar in Augustus plaasgevind. Die saak het egter so gesloer en is eers in Februarie vanjaar aangehoor.

Volgens AfriForum Jeug se inligting het een van die getuies nie vir die verhoor opgedaag nie wat die aanklaer in ’n moeilike posisie geplaas het. ’n Pleitooreenkoms is met die uittredende HK-lid onderteken, terwyl ander HK-lede getuig het en ander nie aangekla is nie. Die primaria is skuldig bevind, maar het net ’n waarskuwing gekry.

Volgens Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, is daar vrae hoekom die oortreders van Jasmyn so lig daarvan afgekom het vergeleke met die voorval vroeër vanjaar op die Potchefstroom-kampus waar ’n senior personeellid glo gestamp is toe hy tussen deur ’n groep eerstejaars van die Hombré-manskoshuis gestap het.
Die HK van die koshuis is binne weke na die voorval verhoor en gestraf. Een HK-lid het ’n pleitooreenkoms aangegaan en is uit die koshuis en universiteit geskors. Die skorsing is vir twee jaar opgeskort, maar ’n boete van R10 000 is opgelê. Twee ander HK-lede is uit die koshuis geskors.

Maree het gesê daar is ernstige bedenkinge oor die verskil en dubbele standaarde in die hantering van tugprosesse by die universiteit.
Kgwadi het in brief gesê hy beskou dit as “disrespekvol” dat ’n afskrif van die brief aan hom ook aan die media gestuur voordat hy dit gekry het.
Voorts het hy gesê die universiteit maak in die algemeen nie persoonlike inligting bekend van studente wat by tugprosesse betrokke is nie.

Kgwadi het gesê hy was nie persoonlik by enige van die ondersoeke betrokke nie. Die NWU gebruik ’n onafhanklike regsverteenwoordiger om die tugverhore op al die kampusse te lei. Hy het gesê waar studente skuldig pleit, kan ’n pleitooreenkoms aangegaan en op ’n gepaste straf besluit word sonder dat ’n verhoor gehou word.
Volgens Kgwadi was daar geen bewys van onregverdige of ongelyke hantering van die sake nie.

Soortgelyke plasings