|

NWU-studente se protesoptog ruk handuit

’n Groep oproerige studente van die Noordwes-Universiteit (NWU) is vanmiddag met skokgranate uiteen gejaag nadat hul versoek vir ’n vreedsame optog by die institusionele kantoor van die NWU ontaard het.

Die kantoor is nie op die Potchefstroom-kampus van die universiteit self nie, het Louis Jacobs, institusionele woordvoeder by navraag gesê.

Jacobs het gesê die studente het verlede week aansoek gedoen om ’n vreedsame optog te hou. Dit is deur al die nodige kanale en strukture goedgekeur.

Die studente het ’n lang memorandum met griewe en besware opgestel wat prof. Dan Kgwadi, visekanselier, ontvang het. Die universiteit het gesê hy neem kennis van die griewe.

Volgens Forum Nuus se inligting het die optog handuit geruk omdat die studente ontevrede was omdat die hekke nie vir hulle oopgemaak is nie.

Eduan Dupper, ondervoorsitter van AfriForum Jeug, het gesê die organisasie het met skok kennis van die gebeure geneem.

“Hierdie is tekenend van ’n leierlose universiteit waar die visekanselier gereeld polariserende uitsprake maak en Afrikaans die sondebok van alle probleme gemaak word. Vandag se gebeure sal  rassespanning op die kampus verhoog,” het Dupper gesê.

Volgens hom was daar in die geskiedenis van die Puk nog nooit so ’n voorval van gewelddadige optogte of optogte waar die polisie moes ingryp om die skare te beheer deur skokgranate te gebruik nie.

“Prof. Kgwadi moet volle verantwoordelikheid aanvaar vir die chaos wat vandag by die universiteit plaasgevind het. Dit is onaanvaarbaar dat studente van ander kampusse aangery word om chaos te kom veroorsaak op ’n normaalweg stil kampus. Ons wil weet wat prof. Kgwadi onmiddellik gaan doen rondom vandag se gebeure.”

’n Onderwysontleder met wie Forum Nuus gepraat het, het gesê die feit dat daar nou weer ’n vlaag opstande op kampusse is, laat die vraag ontstaan of dit nie iewers polities gemotiveer en aangehits word nie.

“Dit is darem net te toevallig dat ons nou opstande by die Elsenburg-landboukollege, die Universiteit van Stellenbosch, die Tshwane-universiteit van Tegnologie en vandag by die NWU sien.

“Miskien moet dr. Blade Nzimande (minister van hoër onderwys) gevra word wat aangaan en wat die inligting is wat hy het oor wat op die land se kampusse aan die gebeur is…”

Nzimande het vandeesweek in die parlement in reaksie op die storm wat ’n video van OpenStellenbosch veroorsaak het, gesê transformasie moet baie vinniger by dié universiteit plaasvind.

Kyk die video hier:

Soortgelyke plasings