NVG doen aansoek vir uitlewering van Grace Mugabe ná volgehoue druk deur AfriForum


AfriForum se privaatvervolgingseenheid is op navraag ingelig dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) besluit het om aansoek te doen om Grace Mugabe aan Suid-Afrika uit te lewer. Grace Mugabe het in 2017 vir Gabriella Engels, ’n Johannesburgse model, met ’n elektriese verlengingskoord aangerand en ernstig beseer.

Die NVG se besluit volg nadat die Suid-Gautengse hoë hof verlede jaar bevind het dat Maite Nkoana-Mashabane, die voormalige minister van internasionale betrekkinge en samewerking, se besluit om diplomatieke immuniteit aan Grace Mugabe te verleen, ter syde gestel moet word. AfriForum, Engels en verskeie ander partye het ’n tersydestellingsaansoek in hierdie verband gebring. Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het dit verder duidelik gemaak dat sy kantoor om ’n nolle prosequi-sertifikaat aansoek sal doen indien die NVG sou versuim om te vervolg.
Die Wet op Immuniteit van Buitelandse Moondhede (1981) sluit uitdruklik die verlening uit van immuniteit aan staatshoofde wat hul skuldig maak aan die dood of beserings van mense in Suid-Afrika. Grace Mugabe, as vrou van ’n voormalige staatshoof, kon dus geensins aanspraak maak op die diplomatieke immuniteit waarop sy haar beroep het nie.

“Ons hoop dat die vervolging van Grace Mugabe binnekort sal geskied en ons sal die saak moniteer. AfriForum raak by kwessies soos hierdie betrokke om te verseker dat mense met politieke mag nie met die pleeg van misdade wegkom nie. Grace Mugabe moet tot verantwoording gebring word vir haar dade en hierdie is die eerste stap om te verseker dat mej. Engels binnekort geregtigheid sal kry,” sê adv. Nel.

Soortgelyke plasings