|

Nuwe Phalaborwa-buurtwag behaal reeds verskeie suksesse

 

AfriForum se landwye netwerk van meer as 130 buurtwagte word by die dag groter en sterker.

Die burgerregte-organisasie se Phalaborwa-buurtwag is skaars ’n maand oud en het reeds aktief gehelp om misdaad in hul omgewing te bekamp. Die buurtwag is in Junie gestig nadat die gemeenskap ’n behoefte uitgespreek het om hulself te organiseer en om die plaaslike polisiestasie en sekuriteitsmaatskappye in die omgewing by te staan.

Die buurtwag is op 14 Junie, skaars ’n week na hul stigting, ontbied nadat hul ’n noodoproep van ‘n lid van die gemeenskap ontvang het oor diefstal wat in die omgewing plaasgevind het. AfriForum se veiligheidstrukture het die verdagtes betrap terwyl hul besig was om ’n staalhek op ’n bakkie te laai. Die SAPD is ook ontbied, waarna albei verdagtes gearresteer en vir verdere ondervraging na die Phalaborwa-polisiekantoor geneem is.

Op 17 Junie is nóg twee verdagtes deur die buurtwag aangekeer ná lede van die gemeenskap hul van ’n huisbraak by ’n onbewoonde eiendom ingelig het. AfriForum se veiligheidstrukture is onmiddellik geaktiveer en twee verdagtes is met ’n gesteelde geiser in hul besit aangekeer. Die SAPD is na die toneel ontbied en die verdagtes is gearresteer. Die eienaar van die huis is ook oor die diefstal in kennis gestel.

Danksy die buurtwag se paraatheid is nog ’n verdagte tydens ’n roetinepatrollie in Junie gearresteer. Dít volg nadat die buurtwag onraad vermoed het toe hulle beweging by ’n verlate huis opgemerk het. Die buurtwag het in samewerking met die SAPD by nadere ondersoek ’n verdagte wat vermoedelik met verskeie misdrywe verbind word, gearresteer. Tydens die arrestasie is daar beslag gelê op sowel dwelms as toerusting wat vermoedelik by ander misdrywe gebruik is.

Dié buurtwag het vandeesweek ook saam met die Tzaneen-buurtwag opleiding in toneelhantering, regsaspekte, huis-en-haardbeskerming en die bedryf van inligting, ontvang. Lede is ook ingelig rakende die buurtwagbeskermer.

Volgens Cobus Louw, voorsitter van die Phalaborwa-buurtwag, is samewerking tussen verskillende instansies soos die GPF, SAPD en sekuriteits­maatskappye baie belangrik om die gemeenskap meer weerbaar te maak. “As die gemeenskap saamstaan en saamwerk, kan ons werklik ’n groot verskil maak.”

 

Soortgelyke plasings