|

Nuwe lied vereer Suid-Afrikaanse vrouehelde

Krag van Bo het oor jou kom rus en jou toegevou in ’n kleed van liefde. Nou sal ons jou naam vir altyd onthou.

Só lui die lirieke uit Leandie Lombaard Bräsler van AfriForum se enkelsnit “Racheltjie de Beer” wat vandeesweek in samewerking met Dapper Media en Forum Films ter viering van Vrouemaand vrygestel word.

Dié lied vereer vrouehelde wat ’n kenmerkende rol in Suid-Afrika se geskiedenis gespeel het soos Susanna Smit, Emily Hobhouse, Nonnie de la Rey en Racheltjie de Beer.

“Ek weet Racheltjie de Beer se verhaal is ’n fiktiewe een, maar tog vereenselwig baie mense met die kernboodskap daarvan. Dit is vir my so mooi, want dit beeld ’n jong meisie wat rein van hart is uit. Iemand wat die moeilike weg gekies het, maar iemand wat ’n dapper besluit moes maak. ’n Ware heldin,” meen Bräsler, wat dié lied sewe jaar terug in haar studentejare reeds neergepen het.

Sy vertel dat dié lied vir haar nog altyd bly uitstaan tussen al die musiek wat sy sedert haar skooldae geskryf het. “Ek het al baie musiek geskryf, maar jy weet ’n lied praat met jou hart as die musiek en lirieke sonder huiwering en twyfel na jou toe kom. Ek het aanhou hoop dat hierdie lied wel eendag op die regte tyd en wyse gebruik sal word.”

Volgens Bräsler is die lied deur haar geloof, familie en sterk vrouens geïnspireer. “Vrouens soos Susanna Smit, wat gesê het dat sy kaalvoet oor die Drakensberge sal loop, het geglo en geweet dat die pad na hoop nie altyd maklik is nie. Almal gaan deur hulle eie moeilike tye, maar deur vas te staan in verdrukking en te volhard in gebed maak jou braaf,” meen sy.

Die lied sal ook gebruik word in AfriForum en Loopgraaf Films se opkomende projek, Kaalvoethelde, wat ’n reeks kortverhale oor kinderhelde soos Dirkie Uys en Japie Greyling is en ook die verhale van Racheltjie de Beer en Antjie Somers vertel.

Die lied se musiekvideo word Vrydag op AfriForum se Youtube-kanaal bekendgestel en die enkelsnit sal binnekort aanlyn afgelaai kan word op verskeie musiekstromingsdienste soos Joox en Spotify.

Soortgelyke plasings