|

Nuwe konstitusie nodig om vervallende Grondwet te vervang

Die Grondwet het verval en ’n vyfpotige mislukking geword waarop Afrikaners nuwe antwoorde moet bied.

’n Nuwe gunstige konstitusie moet geskep én geleef word anderkant die finale Grondwet, het prof. Koos Malan, dosent in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria, by AfriForum se derde nasionale kongres gesê.

Hy het verwys na waardes en beginsels wat in die bestaande Grondwet beskerm word, maar wat verval het.

Korrupsie het part en deel van Suid-Afrika se politieke DNA geword in weerwil van die Grondwet. “Kaderontplooiing is aan die orde van die dag sowel as staatsagteruitgang, verval en korrupsie. Beskerming teen korrupsie het vervalle reg geword.”

Wat die kwessie van veiligheid betref, waarborg die Grondwet dit ook nie vir landsburgers nie. Die polisie is ondoeltreffend en daar was ’n ontploffing van veiligheidsmaatskappye wat veiligheid moet waarborg. Daar is meer as 450 000 private sekuriteitsbeamptes en meer as 9 000 veiligheidsmaatskappye. “Suid-Afrikaners se reg tot fisiese veiligheid bestaan nie.”

Malan het ook verwys na die hantering van haatspraak in die Grondwet. Dit word verbied, maar die algemene diskoers in die land is die van wedersydse rassehaat wat aangeblaas word en in die hoogste senior politieke kringe gedy. Pres. Cyril Ramaphosa, soos Jacob Zuma, sonder Afrikaners in die besonder en wit mense in die algemeen as die skurke uit. “Die Grondwet verbied haatspraak en aanhitsing tot geweld, maar dit het ook verval.”

Waar die Grondwet ook voorsiening maak vir toegang tot behoorlike infrastruktuur en dienste, is die werklikheid dat dit ook verval het.

In die vyfde plek het die erkenning van die regte van gemeenskappe ook verval. “Daar is ’n vendetta teen Afrikaanse skole en die Afrikaanse taal,” meen Malan.

Hy meen chaos en wanorde is Suid-Afrikaners se voorland soos wat die Grondwet al hoe vinniger agteruitgaan.

Afrikaners is egter nie mense wat van chaos en wanorde hou nie. Hulle wil reëls en vrede hê. “As ons kritiek op aspekte van die Grondwet lewer wat verval, is dit nie omdat ons teen reëls is nie, maar dit juis onderskryf.”

Malan wys daarop dat Afrikaners ten opsigte van die Grondwet hulle in ’n ongunstige posisie bevind en uitgelewer is.

Hy het verwys na die insig van politieke ontleders soos R.W. Johnston wat meen Suid-Afrika is in die laaste fase van Afro-nasionalisme wat misluk. Die land misluk en daar word na allerlei gekhede gegryp soos ’n vendetta teen Afrikaanse skole en privaatondernemings en eiendomsreg. “Daar is ’n oplaaiende weersin en afsku in Afrikaners, bruin mense en Indiërs.”

Volgens Malan het die Grondwet verval omdat daar nie remme en teenwigte is nie. Dit is egter nie die einde van die wêreld of geskiedenis nie, want die burgerlike samelewing en veral organisasies soos AfriForum besef dat hulleself remme en teenwigte moet wees. “AfriForum is reeds meer effektief as die regering.”

Volgens Malan is dit moontlik om ’n nuwe konstitusie te skep en te leef. Dit het reeds begin met die skep van nuwe private regspleging, die daarstel van veiligheidstrukture en die ontwikkeling van infrastruktuur.

Om suksesvol te wees, gaan Afrikaners egter moet konsentreer en territoritaliseer. “Ons was nog altyd min en het reggekom. Ons sal weer. Selfstandigheid en selfbestuur is moontlik terwyl ons ook goeie betrekkkinge met alle mense en wedersydse hulpverlening kan uitleef.”

Soortgelyke plasings