|

Nuwe ideesentrum sal gemeenskapselfstandigheid bevorder

Opinor, ’n nuwe ideesentrum en inisiatief van AfriForum, is vandag in Centurion bekendgestel.

Die werksaamhede van die sentrum sal daarop gerig wees om gemeenskappe in Afrika te bemagtig sodat gemeenskappe volhoubaar kan voortbestaan.

“Opinor is opgerig om gemeenskapsgerigte planne, strategieë en beleid te ontwikkel en te bevorder, deur geloofwaardige navorsing en innoverende kommunikasie, wat aangewend kan word om gemeenskapselfstandigheid in Afrika te bevorder. Ons wil deur waardetoevoeging gemeenskappe in staat stel om ’n beduidende verskil op voetsoolvlak te maak,” sê Barend Uys, uitvoerende hoof van Opinor.

Sewe beginsels sal sentraal tot die werksaamhede en benadering van Opinor wees. Dit sluit in selfstandigheid, die daarstel van ’n raamwerk waarbinne gemeenskappe kan saamwerk eerder as om van die staat afhanklik te wees, die gebalanseerde aanbied van die geskiedenis en die bevordering van ’n vrye mark ekonomie om die lewensgehalte van gemeenskappe te verbeter.

Voorts staan Opinor vir nuwe idees waaroor gedink en gedroom kan word om ’n beter toekoms vir nageslagte te skep. Laastens wil Opinor individuele vryheid binne ’n gemeenskapskonteks bevorder en hoop skep.

Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, is aangewys as die voorsitter van Opinor se direksie. “Wat Opinor van ander ideesentrums sal onderskei is dat ons nie bloot bestaan om die stryd om idees te beïnvloed nie. Opinor se kernfunksie sal wees om navorsing te doen wat toegepas kan word deur instellings wat gemeenskappe se belange bevorder en wat hulle met die nodige kennis en insig sal toerus om tot aksie oor te gaan wat tot daadwerklike resultate sal lei. Opinor beoog dus nie om bloot met sy argumente te wen nie, maar om te wen met die aksies wat uit sy argumente gaan spruit,” sê Roets.

Opinor is voorts verbind tot die subsidiariteitsbeginsel, wat erken dat mense van nature sosiale wesens is en klem lê op die belangrikheid van gemeenskapsinstellings soos die gesin, die kerk en vrywilligerorganisasies as strukture wat die individu in staat stel om die gemeenskap te dien en die individu en die gemeenskap as ’n geheel aan mekaar verbind. “Opinor se vertrekpunt is dat mense nie vryswewende individue is nie, maar tot gemeenskappe behoort. Mens se vertrekpunt en onderliggende aannames bepaal die oplossings wat mens kan bedink, en hierdie vertrekpunt gaan ons in staat stel om oplossings te ontwikkel wat binne die werklikhede van Afrika en Suid-Afrika toegepas kan word,” sê Uys.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging en lid van Opinor se adviespaneel, sê Opinor kan nie net ’n dinktank wees nie. “Dit moet ook ’n doentank wees. Ons hoef nie langer te vra hoekom selfbestuur nodig is nie. Ons is reeds verby dié punt en moet nou kyk hoe selfbestuur prakties in werking gestel kan word.”

Buys het verwys na twaalf aannames wat ná 1994 algemeen aanvaar is, maar waarvan niks gekom het nie. Die Suid-Afrika wat in die vooruitsig gestel is, het nie gerealiseer nie. Die aannames was dat die staat voldoende sou wees en dat selfbestuur derhalwe nie nodig sou wees nie. Die aannames was:

  • Die ANC sal Suid-Afrika suksesvol regeer;
  • Die ANC sal die Grondwet respekteer;
  • Kulturele vryheid en ruimtes sou veilig wees en beskerm word;
  • Die ANC is nie sosialisties nie;
  • Kiesers sou stem volgens beleid en nie identiteit nie;
  • Die privaatsektor en vryemark sou die ekonomiese enjin van die land word;
  • Suid-Afrika is ’n reënboognasie wat nie-rassig is;
  • Suid-Afrika het ’n wonderwerkskikking bereik met die beste Grondwet ter wêreld;
  • Wigte en teenwigte is vir instellings ingebou;
  • Regstellende aksie was nodig in plaas van meriete-aanstellings;
  • Suid-Afrika sou nie dieselfde foute as ander Afrika-lande maak nie; en
  • Apartheid was die oorsaak van al die probleme in die land.

Volgens Buys het staatsmislukking selfbestuur noodsaaklik gemaak. “Deur selfbestuur moet ons ’n beter toekoms skep. Ons moet nou aktiewe bouers word.”

*Barend Uys, uitvoerende hoof van Opinor.

Soortgelyke plasings