|

Nuwe graadkursus sal kritiese denke by studente ontsluit

Die Afrikaanse hoëronderwysinstelling Akademia het onlangs  ʼn eerste kwalifikasie in geesteswetenskappe bekendgestel wat vanaf 2019 by die instelling se dertien studiesentrums aangebied gaan word.

Die graadkwalifikasie BSocSci (politiek, filosofie en ekonomie) is ʼn besonderse prestasie vir Akademia, aangesien dit deel vorm van die instelling se toekomsplanne om na meer studierigtings uit te brei wat beide die toegepaste- en die geesteswetenskappe insluit. “Akademia as relatiewe jong hoëronderwysinstelling poog om aan die voorpunt van bedryfsrelevante kwalifikasie-ontwikkeling te wees en om studente vir ʼn snel veranderende en komplekse werksplek voor te berei,” sê dr. Saretha Brüssow, dekaan van Akademia.

Die samesnoering van vakdissiplines soos politiek, filosofie en ekonomie het reeds oor die afgelope honderd jaar op internasionale vlak gewild geraak. “Waar ons programaanbod voorheen net op die ekonomiese wetenskappe gefokus het, dui die toetrede tot die geesteswetenskaplike veld op ʼn begrip van die sosiale aspekte van die werklikheid,” sê Brüssow.

Die uniekheid van die BSocSci is dat dit ʼn kombinasie van drie selfstandige studierigtings in een kwalifikasie daarstel.

In die voltooiing van hierdie kwalifikasie leer studente dat politiek, filosofie en ekonomie  met mekaar vervleg is. Hierdie geïntegreerde benadering skep ʼn breër basis en ʼn hoër plafon betreffende professionele aanpasbaarheid en werksmoontlikhede. “Alhoewel ekonomie as dissipline bedryfsrelevant is en besigheidspersone vir die werksplek voorberei, is daar ʼn tendens om werknemers in diens te stel met ’n filosofiese en politiese agtergrond, aangesien die multidissiplinêre benadering kritiese denke ontsluit,” meen Brüssow.

Die veelsydigheid van hierdie graad skep geleentheid vir die afgestudeerde student om ʼn keuse van beroepswêrelde oor verskeie velde te betree, insluitende politiek, joernalistiek en die bankwese.

Studente wat hierdie kwalifikasie voltooi, stap weg met ʼn breë begrip van die wêreld waarin hulle leef en sal oor die nodige kennis en vaardighede beskik om uitdagings van die moderne besigheidswêreld vierkantig in die oë te staar.

Dr. Johann Rossouw, filosoof, skrywer en dosent verbonde aan die departement filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), verwelkom die toevoeging tot Akademia se kursusaanbod. “Een van my dosente destyds by Tukkies, prof. Marinus Schoeman, het altyd gesê filosofie is die sleuteltjie waarmee jy die deure van alle vakgebiede kan oopsluit.

“Dertig jaar se besigwees met die filosofie het hom reg bewys. Geen ander vakgebied gee aan ’n mens so ’n omvattende blik op die werklikheid, op die etiek, die politiek en die betekenis van die lewe nie,” sê Rossouw.

Volgens hom het alle vakke bowendien aanvanklik uit die filosofie ontstaan. “Studente vra my dikwels wat hulle met die filosofie kan doen, en ek gee twee antwoorde. Eerstens sal filosofie danksy die omvattende blik wat dit ’n mens bied jou beter maak in enige beroep; tweedens is die vraag nie wat jy met filosofie kan doen nie, maar wat dit met jou gaan doen, want niemand kan die filosofie ontmoet sonder om vir altyd te verander nie.”

Soortgelyke plasings