|

Nuwe boek om geskiedenis beter te verstaan….

Die historikus, dr. Jackie Grobler, se splinternuwe boek word beskryf as die mees omvangryke bron oor die Eerste Vryheidsoorlog.

Die Eerste Vryheidsoorlog, 1880-1881, is vandag by Solidariteit se hoofkantoor in Pretoria bekendgestel en die inhoud spruit uit Grobler se doktorale studie oor dié onderwerp. Dié boek, wat deur Kraal Uitgewers gepubliseer is, bevat meer as 200 foto’s, illustrasies en kaarte, en beslaan meer as 500 bladsye.

Grobler het tydens ’n paneelbespreking met Cecilia Kruger, hoofkunsbewaarder by die Voortrekkermonument, klem gelê op die relevansie van geskiedenis en gesê dat dit belangrik is dat boeke soos dié, wat deeglike nagevors is en opgedateerde inligting bevat, met die wêreld gedeel moet word.

“Die wat die minste weet oor die geskiedenis, het deesdae die meeste te sê daaroor. Dit is ongelooflik watter onsin mense deesdae kan skryf en kwyt raak oor die geskiedenis, veral op sosialemedia. Dit is belangrik om jouself deeglik in te lig oor die geskiedenis, dit kan jou help om mense vandag beter te verstaan,” meen hy.

Dr. Pieter Mulder, voormalige leier van die VF Plus, sê dit is noodsaaklik om boeke oor Afrikaners se geskiedenis te publiseer omdat dit dikwels deur die regering totaal geïgnoreer word. “As daar iets oor byvoorbeeld die Anglo-Boereoorlog voorkom in skole se leerplanne, is dit dikwels drie sinnetjies met ’n verdraaide weergawe van die ware geskiedenis. Daarom moet ons, as Afrikaners, ons weergawe daarvan gee.”

Hy sê voorts dat die geskiedenis vandag vereenvoudig is tot ’n “wit-en-swart-stryd” en dat hy hoop die boek daarom ook in Engels gepubliseer sal word. “Alles wat die afgelope 300 jaar gebeur het, was rassisme. Dit was nie so eenvoudig nie. Hierdie spesifieke stryd, was ’n Afrikaner-Britse stryd. Jy moet daardie nuanses verstaan om die Afrikaner te verstaan,” meen Mulder.

Alana Bailey, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum en uitvoerende hoof van Kraal Uitgewers, sê dit was ’n groot geleentheid vir Kraal om deel te wees van die boek se publisering, juis omdat bitter min oor dié onderwerp bekend is.

Sy het ook daarop gewys dat dit Afrikaners se plig is om hul geskiedenis te bewaar, nie net vir hulself nie, maar ook vir hul nageslagte om te weet waar hul vandaan kom.

“’n Mens moet jou nie laat mislei deur mense wat die geskiedenis verkeerd interpreteer of verdraai nie, dit is baie belangrik dat jy kennis moet hê oor wie jy is en waar jy vandaan kom. ’n Mens leer ook hoekom jy waarde heg aan sekere goed of hoekom jy ’n sekere manier voel oor ’n saak, as jy weet waar jy vandaan kom. Ek dink jy mislei ook jouself as jy dink dat jou geskiedenis nie ’n invloed op jou toekoms het nie.”

Dié uitsonderlike publikasie is beskikbaar teen R650 en kan by www.kraaluitgewers.co.za bestel word.

Soortgelyke plasings