Nuut aangeduide voedingsareas vir Gauteng-skole voorspel groot ongemak vir 2020-skooljaar


Die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, het gisteroggend (15 November) tydens ’n  mediakonferensie in Johannesburg die nuwe voedingsareas vir skole in Gauteng bekend gestel. Dié nuwe voedingsareas, wat ’n ruim radius van 30 kilometer in en om skole in Gauteng dek, veroorsaak groot kommer omdat dit nóg meer leerders insluit as wat skole in dié toegekende area reeds kan akkommodeer. Bowendien sluit dit ook in sommige gevalle  leerders uit wat voorheen binne ’n kilometerradius van spesifieke skole gewoon het. Dié leerders word nou verplig om baie verder van hul huise skool te gaan omdat die nuwe radius dit só bepaal.

Lesufi meen dat dié veranderde voedingsareas vir Gauteng-skole finaal die ruggraat van apartheid gebreek het en dat skole van 2020 af vir alle leerders toeganklik sal wees, ongeag finansiële of sosiaalmaatskaplike omstandighede.
AfriForum is sterk teen dié regulasie vir nuwe voedingsareas gekant en glo dat dit bloot nóg ’n poging van Lesufi is om die ooglopende probleem van ’n skooltekort in Gauteng op te los. Sy politieke agenda bly ’n sterk fokuspunt en deur voortgesette bewerings oor sogenaamde uitsluiting van leerders polariseer hy gemeenskappe tot nadeel van almal in Gauteng.

“Die invloei van meer leerderaansoeke vanuit verskillende oorde sal ook die druk op enkelmedium- Afrikaanse onderrig verhoog. Vervolgens sal meer skole vir dubbelmedium onderrig moet voorsiening maak, wat uiteindelik tot die ondergang van gehaltemoedertaalonderrig sal lei,” sê Carien Bloem, AfriForum se koördineerder vir onderwys.
“Dit veroorsaak ook logistieke uitdagings vir skole en ouers ten opsigte van vervoer en naskoolsorg, wat in geheel teenstrydig met Lesufi se visie is om skole meer toeganglik vir alle leerders te maak en leerders die geleentheid te gee om aan ’n verskeidenheid van buitemuurse aktiwiteite deel te neem,” voeg Bloem by. “Op die oog af blyk die nuwe indelings voordelig te wees en ’n diverse Gauteng te akkommodeer. Ons sal egter eers met die aanvang van die skoleregistrasies vir die 2020-skooljaar die ware impak van hierdie indeling kan waarneem – wanneer dit reeds te laat is.”

AfriForum doen ’n dringende beroep op skole en ouers om binne 90 dae appèl teen die nuut voorgestelde voedingsareas aan te teken deur feederzoneappeals@gauteng.gov.za te e-pos.
Die voedingsareas kan by www.gauteng.gov.za besigtig word.
Met verwysing na die regsmening wat AfriForum reeds oor wysigings aan skoleregulasies in Gauteng ingewin het, kan die burgerregte-organisasie weer eens bevestig dat alles moontlik gedoen word om dié wysigings teen te staan.

Soortgelyke plasings