|

Noord-Kaap-vullisterreine in haglike toestand

AfriForum het vanjaar 135 vullisterreine landwyd geoudit as deel van die organisasie se nasionale projek om die gehalte van vullisterreine in Suid-Afrika te meet.

Nie een van die Noord-Kaapse vullisterreine wat geoudit is, het aan nasionale standaarde voldoen nie. Kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis 59 van 2008, moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen.

Só vergelyk die vullisterreine in die Noord-Kaap:

Naam van tak/vullisterrein Munisipaliteit/ verantwoordelike instelling Lisensienommer Nakomingstelling (%)
Noord-Kaap: 2015 2016 2017 2018 2019 2020
Barkly-Wes Dikgatlong PM 16
Douglas Siyancuma PM 2 4
Deben Gamagara PM 2
Hartswater Phokwane PM 76 57 14 2
Hopetown Thembelihle PM 2 10
Jan Kempdorp Phokwane PM 32 10 0
Kamieskroon Kamiesberg PM 8
Kathu Gamagara PM B33/2/4441/15/P116 56 19 16 28 26
Kimberley Sol Plaatje PM 16/2/7/C901/D2/P265 48 36 82 52
Kuruman Ga-Segonyana PM B33/2/441/9/P128 72 56 39 27 10 52
Keimoes Kai !Garib PM 2 6
Olifantshoek Gamagara PM 14
Orania Orania Dorpsraad NC/PIX/SIY/ORA/04/2016 95 80 66
Postmasburg Tsantsabane PM 56 12 41 20
Prieska Siyathemba PM 16/2/7/D720/D1/Z1/P479 16
Springbok Nama Khoi PM 16/2/7/F300/D9/21/P315 8 20 7 0 0 4
Upington Khara Hais PM 84 8 4 6 18
Warrenton Magareng PM 6 14
Williston Karoo Hoogland PM 8 10 10 4 22

Die oudit bestaan uit ’n lys van 33 vrae wat die minimum vereistes vir vullisterreine in Suid-Afrika meet en sluit faktore soos toegangsbeheer, brande, mediese afval, omheining, rehabilitasie en dies meer in. ’n Vullisterrein moet minstens 80% behaal om aan wetgewing te voldoen.

Volgens Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari, is die meeste vullisterreine in die Noord-Kaap in ’n haglike toestand. Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan swak bestuur en verskuiwingstoerusting wat swak of glad nie onderhou word nie en nie met die herwinning van afval kan help nie.

Strauss sê voorts die algemeenste probleme wat AfriForum tydens die oudit ondervind het, is onder meer die afwesigheid van afvalbestuurslisensies en die algehele wanbestuur van die terreine. “Die meeste terreine het geen heining of naamborde nie, en ongemagtigde mense woon ook op die terreine.”

AfriForum-takke sal ook druk op owerhede in hul gebiede plaas om afvalmoniteringskomitees te stig om die afvalbestuursproses te verbeter. Dié komitees sal bestaan uit munisipaliteite en belanghebbende partye wat vullisbestuur in die betrokke dorp wil verbeter. AfriForum gaan ook ná afloop van die projek ’n vergadering met Barbara Creecy, Minister van Omgewingsake, belê om terreine te identifiseer sodat dit herstel en weer op peil gebring kan word.

Die ouditverslag sal ook aan die Groen Skerpioene oorhandig word vir verdere ondersoek en optrede teen munisipaliteite wat nie aan die vereistes voldoen nie. AfriForum sal die proses deurlopend moniteer om te verseker dat die vullisterreine se standaard genoegsaam verbeter.

  • Lees die volledige verslag hier.

Soortgelyke plasings