|

Nóg twee plaasaanvalle ná AgriSA-verslag afname oor 20 jaar voorhou

Terwyl AgriSA verlede week in ’n verslag oor plaasaanvalle en –moorde voorgehou het dat daar die afgelope 20 jaar ’n afname in die gruweldade was, is nog ’n bejaarde in die naweek wreed vermoor en ’n gesin in die Reitz-omgewing in die Vrystaat aangeval.

Boet Smal (78) en sy vriendin, Estelle, is Saterdag op hul hoewe in Boschfontein, Heidelberg, aangeval. Hy is vermoedelik 3 keer gesteek en sy kop teen ’n fontein gekap. Estelle is in die rug gesteek toe sy Boet probeer help het. Sy is steeds in ’n kritieke toestand in die hospitaal.

Die egpaar Kobus en Marlise van Niekerk van Reitz is Sondag oorval nadat vyf mans toegang tot hul plaashuis verkry het. Hulle is vasgebind en vuurwapens en ’n dubbelkajuitbakkie is gesteel.

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, sê ondanks bewerings dat plaasaanvalle die laagste in 20 jaar is, is daar geen einde aan die aanvalle en moorde nie.

AfriForum se geverifieerde statistieke toon dat daar oor die afgelope vier jaar in werklikheid ’n toename in die aanvalle was. Vanjaar alleen was daar sowat 200 aanvalle en dit is nog nie eens die helfte van die jaar nie.

Die huidige tendens toon dat daar ook meer mense op plase verloor gaan word as die afgelope drie jaar se syfers afsonderlik gemeet word.

AfriForum se getalle wys duidelik dat daar ’n toename in plaasaanvalle regoor die land is en om voor te hou dat dit laag is of selfs die laagste in twee dekades, is eenvoudig ’n wanindruk wat by die publiek geskep word, sê Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum.

Luidens AgriSA se verslag was daar van 1996/97 – 2016/17 altesame 12 567 aanvalle en 1 733 moorde.

Kobus Visser, direkteur van landelike veiligheid by AgriSA, meen die voorkoms van plaasaanvalle en –moorde bly uiters kommerwekkend. As daar gekyk word na getalle wat die polisie in die parlement bekend gemaak het, het plaasaanvalle toegeneem hoewel moord op jaarlikse grondslag verminder het.

Lorraine Claasen, navorser by AfriForum se Navorsingsinstituut (ANI), meen die huidige situasie ten opsigte van gevalle wat gerapporteer word, moet aandag kry aangesien die situasie en konteks in die land oor die afgelope 20 jaar drasties verander het. “Daar moet eerder bewustelike pogings aangewend word om huidige syfers te gebruik wat tendense kan bepaal ten einde proaktief op te tree en plaasaanvalle sodoende te verminder.”

Cameron het in die lig van die jongste aanvalle ook gesê ondanks die bykans 200 aanvalle wat daar al vanjaar was, wil Bheki Cele, die minister van polisie, steeds nie plaasmoorde tot prioriteitsmisdade verklaar nie. Hierdie stilswye en apatie dui daarop dat die regering in wese plaasmoorde en -aanvalle as misdade deprioritiseer, meen hy.

Die regering slaan geen ag op die omvang van die krisis nie en daarom moedig AfriForum mense aan om by buurtwagte en patrollies betrokke te raak en aan te sluit ten einde hulself te beskerm en beter te beveilig.

Cameron en ’n Duitse nuusagentskap het verlede week die toneel besoek waar Fanie (78) en Colleen (74) Engelbrecht op 13 Mei wreed gemartel en vermoor is. Colleen is onder meer met ’n strykyster gebrand voordat sy verwurg en haar keel afgesny is.

Volgens hom is dit maar net een van talle voorbeelde van ’n familie wie se lewens verwoes is weens die staat se onvermoë om mense in landelike gebiede te beveilig.

AfriForum het ook ’n fonds gestig om slagoffers van plaasaanvalle te ondersteun. Intussen gaan die organisasie voort om dié krisis onder die internasionale wêreld se aandag te bring.

Soortgelyke plasings