|

Nog plaasmoorde ruk SA; MRK-verslag vandeesweek bekend gemaak

Windpomp12Upload

Op die vooraand wat die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) ’n verslag oor plaasmoorde moet vrystel, is nog ’n bejaarde boer, Ruben Gouws (65) en sy ma, Hermien (88) in die naweek wreed op hul plaas in Ida in die Oos-Kaap vermoor.

Drie aanvallers het hulle met messe aangeval en vuurwapens en geld gebuit. Hulle het ook ‘n serp gebruik waarmee Hermien verwurg is.

Marnus van Staden, AfriForum se provinsiale koördineerder in die Oos-Kaap, het gesê die aanvallers het van buite die gebied gekom. Hulle het nadat hulle die moorde gepleeg het, te voet gevlug. Drie van Gouws se werkers het later na die plaas teruggekeer. Hulle het verby die aanvallers gestap en gehoor hoe hulle oor wapens praat wat hulle in die aanval gebuit het. Die werkers het hulle toe gekonfronteer. Twee het weggehardloop en een is gevang met ‘n wapen wat in sy besit was.

Volgens Van Staden het die polisie op Ida baie vinnig opgetree en die aanvallers aangekeer. “Dit kan toegeskryf word aan die flinke optrede van die polisie en lede van die gemeenskap. Hierdie tragiese toedrag van sake is net weer ‘n bewys dat landelike gemeenskappe meer sal moet saamstaan en by veiligheidstrukture betrokke sal moet raak.”

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê in die lig van die wrede moorde en aanvalle wat op plase voortgaan, moet met dringendheid van die MRK-verslag kennis geneem word en aanbevelings om die vergrype hok te slaan, moet so spoedig moontlik inwerking gestel word.

Voorlopige aanduidings in die verslag is dat die MRK AfriForum gelyk gegee het dat die regering en politici hul sterker teen plaasmoorde moet uitspreek én dit moet veroordeel.

Roets het gesê die burgerregte-organisasie sal voortgaan om te eis dat die polisie plaasmoorde as misdaad moet prioritiseer.

Volgens AfriForum en TLU SA se syfers is meer as 30 mense sedert die begin van die jaar in plaasaanvalle vermoor en sedert 1990 sowat 1 700.

Van die aanbevelings wat die MRK in sy verslag maak, is:

  • Wetstoepassingsliggame soos die polisie en die nasionale vervolgingsgesag (NVG) moet hul betrokkenheid opskerp om misdade teen landbougemeenskappe te help beveg;
  • Die goeie verhoudinge wat daar op baie plase tussen boere en hul werkers is, moet meer beklemtoon word;
  • Howe moet beter ingelig word oor die omstandighede van landbougemeenskappe wanneer sake oor byvoorbeeld borgtog vir oortreders aangehoor word; en
  • Die polisie moet riglyne neerlê vir sigbare polisiëring van landelike en plaasgemeenskappe.

Die verslag wys voorts daarop dat daar ’n gebrek aan navorsing is oor die veiligheid- en sekuriteitsuitdagings waarmee landbougemeenskappe gekonfronteer word.

 

 

Soortgelyke plasings