|

Nóg ’n D-dag vir Malema in 2020 ná AfriForum hom aankla oor afvuur van vuurwapen

Julius Malema, EFF-leier, gaan danksy volgehoue druk deur AfriForum in die komende jaar vir nóg ’n saak in die hof verskyn.

Malema en sy sekuriteitsbaas, Adriaan Snyman, het vandag in die Oos-Londense streekhof verskyn nadat die burgerregte-organisasie klagtes teen Malema aanhangig gemaak het vir die onwettige afvuur van ’n vuurwapen. Die saak hervat op 24 Februarie 2020.

Dié klagtes volg nadat Malema op die EFF se vyfjaarfeesvieringe in 2018 skote afgevuur het met ’n voorwerp wat soos ’n aanvalsgeweer lyk. Snyman het na bewering vir Malema die vuurwapen aangegee en is ’n getuie in dié saak.

Die EFF se woordvoerders het ontken dat die voorwerp ’n regte vuurwapen was en het later beweer dat dit klappers was wat in ritme met die voorwerp afgegaan het.

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het egter gesloer met die besluit om vervolging in te stel, al dan nie, ten spyte van die feit dat daar prima facie bewyse bestaan dat Malema na bewering ’n misdryf gepleeg het.

Luxolo Tyali, provinsiale woordvoerder van die NVG in die Oos-Kaap, het vandag in ‘n verklaring bevestig dat die NVG’n totaal vyf klagtes teen Malema het:

  1. Die onwettige besit van ’n vuurwapen;
  2. Die onwettige besit van ammunisie;
  3. Die afvuur van ’n vuurwapen in ’n beboude gebied;
  4. Dat hy nie die redelike voorsorgmaatreëls getref het om te sorg dat mense of eiendom nie in gevaar is nie; en
  5. Dat hy mense en eiendom in gevaar gestel het.

Snyman word deur twee klagtes in die gesig gestaar: Dat hy nie die redelike voorsorgmaatreëls getref het om te sorg dat mense of eiendom nie in gevaar is nie, en dat hy ’n vuurwapen en/of ammunisie verskaf het aan iemand wat nie toegelaat is om dit in hul besit te hê nie.

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, sê dit is goed dat Malema uiteindelik sy dag in die hof kry vir hierdie voorval. “Ons het reeds gesien dat hierdie handeling van hom landwyd nagedoen is en die feit dat hy vir so lank nie daarvoor vervolg is nie, het daartoe gelei dat dit as aanvaarbare gedrag beskou word. Dit is betreurenswaardig dat AfriForum eers soveel druk op die NVG moes plaas voordat hulle besluit het om te vervolg, ten spyte van duidelike bewyse van die beweerde oortreding.”

Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder en ook die klaer in die saak, sê die burgerregtewaghond sal hierdie verrigtinge fyn dophou om toe te sien dat geregtigheid geskied.

Malema en Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, het verlede week ook hul eerste verskyning in AfriForum se aanrandingsaak teen hulle gemaak. Hulle het na bewering ’n kolonel in die SAPD aangerand. Dié saak hervat op 10 Maart 2020.

Soortgelyke plasings