|

Nkandla-sage kan Zuma se einde beteken

Jacob-Zuma
President Jacob Zuma

 

President Jacob Zuma se dae is volgens politieke ontleders dalk getel na die grondwethof se verdoemende uitspraak rondom die Nkandla-sage.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng en 11 ander regters het eenparig bevind dat Zuma gefaal het om sy verpligtinge ingevolge die Grondwet na te kom. Hy is verplig om te voldoen aan die regstellende stappe van die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, se Nkandla-verslag.

Die hof het beslis Zuma moet binne 45 dae ’n gedeelte van die staatsgeld wat nie aan sekuriteitsopgraderings by sy Nkandla-woning bestee is nie, terug betaal. Die nasionale tesourie moet bepaal hoeveel hy moet terug betaal.

Volgens Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, is dit ondenkbaar dat ’n persoon wat volgens die hoogste hof van die land sy presidensiële eed en die Grondwet geskend het, voortgaan om as president te dien. “Die publiek, binne en buite Suid-Afrika, se vertroue in die president sal nooit weer herstel word nie.”

Roets meen die enigste eerbare stap wat vir Zuma oorbly is om te bedank en sy verantwoordelikhede as president van die Republiek van Suid-Afrika neer te lê.

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, het aan Forum Nuus gesê dat hy ongetwyfeld saamstem met vandag se uitspraak. Hy sê dat vandag se gebeure tot ’n mate Suid-Afrikaners se vertroue in die regstelsel kan herstel omdat dit bewys dat die oppergesag van die wet nog daar is.

“Hierdie uitspraak is besonder positief ten opsigte van demokrasie en grondwetlike geregtigheid.”

Hy sê voorts dat Zuma tot nou toe baie politieke oorlewingskrag gehad het, maar dat die uitspraak moontlik die einde van sy politieke loopbaan kan beteken. “Nkandla is eintlik net ’n puntjie van ’n groot ysberg. Benewens die feit dat hy daaraan skuldig is dat hy geld onregmatig bestee het, kom dit daarop neer dat hy die Grondwet, die hoogste gesag, oortree het.”

Roland Henwood, dosent in politieke wetenskap aan die Universiteit van Pretoria, het gesê die uitspraak het die status van die Openbare Beskermer bevestig en bewys dat sy nie ondermyn moet word nie.

Hy meen ook Zuma se politieke posisie, asook die betroubaarheid van parlementslede wat hom ondersteun, is in gedrang.

“Hierdie uitspraak gaan moontlik tot verdere konflik en verdeling binne die ANC lei.”

Op ’n vraag of hy dink Zuma moet bedank, het hy gesê geen ander gevestigde demokratiese staat sou in die eerste plek toelaat dat iemand soos Zuma so lank aan bewind bly nie.

“Die regter het vandag uitgewys dat Zuma nie die verwagte grondwetlike waardes en verantwoordelikhede van ’n president uitgebeeld of nagekom het nie.”

Volgens die DA is vandag ’n oorwinning vir die grondwethof, die Grondwet en Suid-Afrikaners. Die party begin vandag met hul proses om Zuma ingevolge Art. 89 (1) van die Grondwet in ’n staat van beskuldiging te plaas.

Dit behels dat die president uit sy pos verwyder kan word op grond van:

(a) ernstige skending van die Grondwet;

(b) ernstige wangedrag; of

(c) die onvermoë om as president te funksioneer.

“Die kantoor van die Openbare Beskermer is ’n integrale deel van ons demokrasie, dit kan dus nie ondermyn word nie. Vandag se uitspraak is baie duidelik: president Zuma se optrede is ’n ernstige skending van die Grondwet en regverdig ons vervolgingsproses,” lui ’n verklaring wat die DA uitgereik het.

 

 

 

 

 

 

Soortgelyke plasings