Nigel faal riooltoetse


AfriForum se Nigel-tak het op 10 en 22 Januarie drie riooluitlaatpype in dié dorp getoets. Twee watermonsters is geneem vanuit vloeibare waterstrome in informele nedersettings, terwyl ’n derde monster geneem is vanuit die Blesbokspruit waar rou riool vanaf die Bigley-rioolaanleg vrylik in die spruit vloei. Die tak het hierdie toetse gedoen ná verskeie klagtes deur gemeenskapslede oor die ondraaglike stank van die spruit.  

“Ons het vasgestel dat die rioolvlakke in die spruit nie aan die minimum standaarde voldoen nie. Die water het positief getoets vir fekale koliforme, E. coli, nitrate en fosfate, waarvan die konsentrasie nie binne die gestelde standaarde was nie,” sê Marie Naude, AfriForum se distrikskoördineerder vir Gauteng.

AfriForum sal verseker dat die besoedeling aangepak word deur ’n aanmaningsbrief aan die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit te stuur en te eis dat ’n oplossing vir die probleem binne 48 uur gevind moet word.

“Ons sal aandag moet skenk aan rioolaanlegte. Ons kan nie toelaat dat onbekwame munisipale beamptes ons waterbronne besoedel nie,” sê Neels Toerien, voorsitter van AfriForum se Nigel-tak.

Gee AfriForum die mandaat om waterkwaliteit aanhoudend te moniteer: SMS “Nigel” na 45342 (R1) om hierdie aksie te steun.

Soortgelyke plasings