|

NGV: Jou gesondheid hoort nie in ’n onbekwame staat se hande nie

AfriForum veroordeel die regering se volgehoue misleiding van die publiek oor die werkbaarheid van nasionale gesondheidsversekering (NGV) en sal aanhou om die implementering van hierdie wetgewing teen te staan. Die datum vir die indien van kommentaar oor die NGV-wetsontwerp sluit môre.

AfriForum het die proses sedert die aankondiging van die regering se planne om NGV te implementeer teengestaan – nie omdat die organisasie gekant is teen gehaltegesondheidsorg vir almal nie, maar omdat die ANC-regering onbekwaam is om juis dít te doen. Burgery behoort verder minder afhanklik van die staat te word, nie méér afhanklik nie en NGV sal in effek mense se lewens in die hande van die staat plaas.

“Die ANC volhard daarmee om NGV se lof te besing en belowe hand en mond dat die staat die enigste weg is na gehaltegesondheidsorg vir almal in die land. Dit is bloot onwaar – volgens ’n AfriForum-verslag het die regering versuim om hoegenaamd enige ander voorstelle van die publiek of bedryfrolspelers oor die verskaffing van gesondheidsorg te oorweeg. Dit laat vrae ontstaan oor of hierdie bloot nog ’n rookskerm is om belastinggeld in die hande te kry, want belasting gáán verhoog moet word om hierdie skema te befonds,” sê Natasha Venter, woordvoerder vir NGV by AfriForum.

Die ouditeur-generaal (OG) se 2018/2019-oudituitkomste vir die nasionale en provinsiale regering is onlangs vrygestel. Dit bepaal dat byna R67 miljard in een jaar deur die regering vermors is, waarvan R4,16 miljard vrugteloos en verkwistend was. Volgens die ANC se voorlegging oor NGV hoef die publiek egter nie bekommerd te wees oor korrupsie en wanbesteding nie, want die NGV-fonds sal:

  1. Jaarliks aan die parlement rapporteer;
  2. Bedrieglike aktiwiteite hokslaan deur die daarstelling van ’n risiko-enjin; en
  3. Deur die teenkorrupsieforum vir gesondheidsorg oorsien word.

“Hierdie karige ‘voorsorgmaatreëls’ is allermins gerusstellend. Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) moet byvoorbeeld ook jaarliks verslae aan die parlement stuur en dit het niks gedoen om grootskaalse korrupsie in hierdie staatsentiteit te verhoed nie. AfriForum het verder vanjaar en verlede jaar strafregtelike klagtes vir wanbesteding gaan indien teen die hoofde van die provinsiale gesondheidsdepartemente en niemand is nog aanspreeklik gehou nie – dit laat vertroue verflou in die strafregstelsel se vermoë om staatsamptenare verantwoordbaar te hou,” sê Venter verder.

AfriForum moedig die publiek aan om www.jougesondheid.co.za te besoek om hul kommentaar aan die parlement te stuur, asook om die burgerregteorganisasie hul mandaat te gee om hierdie vernietigende wetsontwerp teen te staan.

Soortgelyke plasings