|

NGV: Gemeenskap van Middelburg woon AfriForum-gemeenskapsvergadering by

Die gemeenskap van Middelburg het AfriForum se gemeenskapsvergadering oor die wetsontwerp op nasionale gesondheidsversekering (NGV) op 23 Oktober 2019 bygewoon. Die burgerregteorganisasie het die gemeenskap tydens hierdie geleentheid aangemoedig om die openbare verhoor oor NGV by te woon ten einde kommentaar teen dié vernietigende wetsontwerp te gee.

AfriForum het tydens hierdie gemeenskapsvergadering ook meer duidelikheid gegee oor die skadelike impak wat die implementering van die NGV-wetsontwerp kan hê en vrae van gemeenskapslede beantwoord.

“Zweli Mkhize, minister van gesondheid, wil met alle mag voortbeur met NGV. Dit bly egter vir AfriForum ’n raaisel waarom enige moderne regering só ’n universeel mislukte stelsel wil naboots. Die implementering van NGV sal beteken dat die staat kan besluit watter behandeling jy nodig het, wie dit moet verskaf en waar jy dit moet ontvang. Praktiese implikasies hiervan kan insluit dat die staat byvoorbeeld kan besluit wie ’n vrou se ginekoloog moet wees, asook waar en deur watter metode haar kind gebore moet word of watter kankerbehandeling ’n pasiënt moet kry. Ons kan nie toelaat dat die ANC die land se gesondheidstelsel kommuniseer nie,” sê Natasha Venter, AfriForum se woordvoerder vir NGV.

“AfriForum wil die publiek aanmoedig om NGV op elke moontlike wyse teen te staan. Dit sluit in die aanlyn indien van kommentaar, asook om AfriForum hul mandaat te gee om die wetsontwerp namens die gemeenskap teen te staan,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

“Ons wil egter beklemtoon dat dit belangrik is dat die gemeenskap van Middelburg en omliggende gebiede die openbare verhoor die naaste aan hulle bywoon om weerstand teen NGV te bied. Dit is die gemeenskap se kans om hul verset teen NGV te wys,” sê Bronwen Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

Soortgelyke plasings