--> -->
Spyskaart +

NGV – die hoeksteen van privaatgesondheidsorg se ondergang  

Maart 8, 2019 deur Mareli Rall

Deur Natasha Venter

Healthcare is the cornerstone of the socialist state. It is the crown jewel of the welfare state – Monica Crowley

Suid-Afrika kan allermins as ’n welvaartstaat beskryf word (dit is lande soos Frankryk, België en Finland). Die regerende ANC se aanhang van alle idees wat ’n sweempie kommunisme bevat, stuur die land egter op die pad na sosialisme. Verhoogde staatsinmenging op alle gebiede, die aantal mense wat regeringstoelae ontvang, sowel as die astronomiese aantal staatsamptenare is die bloudruk van ’n sosialistiese staat. Al wat kort, is die hoeksteen en dít is presies wat gesondheidsminister Aaron Motsoaledi met sy Nasionale Gesondheidsversekering­skema (NGV) wil verskaf. In vanjaar se begrotingsrede het finansiesminister Tito Mboweni aangekondig dat R717 miljard vir gesondheidsdienste, insluitend die uitrol van die NGV, toegeken word.

Volgens Motsoaledi is die NGV ’n finansieringstelsel wat sal verseker dat alle burgers en wettige langtermyninwoners voorsien word van omvattende noodsaaklike gesondheidsorg, ongeag hul werkstatus en vermoë om ’n direkte geldelike bydrae tot die NGV-fonds te maak. Dit is die ANC se oogmerk dat die NGV die grootste staatsinstelling in Suid-Afrikaanse geskiedenis word – daarom (met inagname van huidige staatsinstellings se baanrekords) die grootste geleentheid vir korrupsie en wanbesteding nóg. Die redenasie om die NGV te regverdig is dat gesondheidsorg ’n grondwetlik gewaarborgde mensereg is. Daar is egter een groot kraak wat dwarsdeur hierdie redenasie loop: Mense het in teorie reeds toegang tot gesondheidsorg in die gestalte van staatgesondheidsinstellings.

Motsoaledi beweer verder dat die regering sy bes gedoen het om sedert 1994 toe te sien dat iedereen in die land gelyke toegang tot noodsaaklike gesondheidsdienste het, maar dat dít as gevolg van ’n ongebalanseerde gesondheidsorg­finansieringstelsel uitdagend is. Hierdie redenasie is gebaseer daarop dat die staatsgesondheidsdiens dienste aan sowat 70% van die bevolking moet bied, terwyl die middel- en hoëinkomstegroepe van privaat gesondheidsdienste by wyse van mediesefondse gebruik maak. Volgens die Internasionale Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) (2018) het die demografiese verteenwoordiging van mediesefondslede sedert 1997 dramaties verander: 48% is swart, terwyl slegs 34% wit is, 11% uit bruin mense bestaan en 7% Indiërs is. Ten spyte hiervan streef die ANC-regering steeds na die verwoesting van mediesefondse en die uiteindelike ondergang van privaatgesondheidsorg in Suid-Afrika.

Die hartseer werklikheid is dat 85% van staatshospitale en -klinieke nie aan basiese mediese standaarde voldoen nie. Daarom het die staatsgesondheidsdiens tot R56 miljard (’n kwart van verlede jaar se begroting vir gesondheidsdienste (IRV, 2018)) aan die uitbetaling van nalatigheidseise bestee. AfriForum het verlede jaar ook strafregtelike klagtes oor onreëlmatige besteding van meer as R10 miljard in al nege provinsies ingedien.

Mboweni se finansiering vir die uitrol van die NGV, tesame met die regering se besluit om nie die mediesekredietkoers vanjaar te verhoog nie, dui daarop dat die ANC van plan is om sy sosialistiese hoeksteen te lê, want hierdie wetsontwerp is niks anders nie as die gesentraliseerde diktatorskap van burgery se gesondheid. AfriForum, aan die anderkant, staan vir ware toegang tot gesondheidsdienste – wat hoofsaaklik deur die privaatsektor gelewer kan word – en eis ook dat die staat sy plig om staatsgesondheidsinstellings behoorlik te bestuur, nakom.

Bron: Jeffrey, A. 2018. What’s wrong with the golden promise of NHI? Institute of Race Relations. https://irr.org.za/reports/occasional-reports/whats-wrong-with-the-golden-promise-of-nhi. [28 Februarie 2018].