|

Nersa volg AfriForum se advies

Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) het op 8 Augustus 2019 die verhoogde elektrisiteitstarief aangekondig wat die Tshwane-metro mag implementeer. Die verhoogde tarief sluit ’n verhoging van 13,07% in op die 2018/2019-tarief vir die 2019/2020-termyn.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria, verwelkom die burgerregteorganisasie dié aankondiging. “Ons is gelukkig met die tarief wat Nersa goedgekeur het en aanvaar dat die verhoging baie meer realisties is as die vorige voorgestelde verhoging wat die metro tydelik geïmplementeer het. Die feit dat die regte prosesse nou gevolg is vóór die aankondiging is ook vir ons positief.”

Die aankondiging het plaasgevind nadat daar die afgelope tyd ’n hewige twis ontstaan het oor die implementering van ’n verhoogde kragtarief wat nie deur Nersa goedgekeur is nie. Nersa het toe besluit om ’n openbaredeelnameproses van stapel te stuur om sodoende ook die gemeenskap se insette te kry.

Grobbelaar voeg by dat AfriForum die resultaat van die begin af op die tafel geplaas het en die organisasie is bly dat daar aan die gemeenskap se insette gehoor gegee word. “AfriForum het van die begin af voorgestel dat slegs ’n 13,07%-verhoging op die 2018/2019-tarief geïmplementeer word, waarna ’n struktuurverandering vir die 2020/2021-finansiële jaar goedgekeur word. AfriForum sal ook aan daardie proses deelneem en seker maak dat die inwoners van Pretoria se stem gehoor word.”

Nersa se besluit beteken nou dat geen basiese heffing vir die huidige boekjaar op elektrisiteitsverbruikers geplaas gaan word nie.

Inwoners wat koopkragmeters het sal met ekstra eenhede deur die metro vergoed word vir die verhoogde tarief wat hulle tot dusver vir eenhede betaal het.

Inwoners wat koopkragmeters het en die verhoogde tarief betaal het, kan ook hierdie skakel volg om ’n dispuut met die metro te verklaar sodat hulle vergoed word vir die koste aangegaan: http://bit.ly/2GG25NA.

Soortgelyke plasings