|

Nelson Mandela-stigting vra gelykheidshof om te bepaal of ou landsvlag “verontmenslik”

Die regspan van die Nelson Mandela-stigting (NMS) het vandag in die gelykheidshof in Johannesburg in antwoord op regsargumente van AfriForum en die FAK gesê adjunk-regterpresident Phineas Mojapelo moet beslis of die vertoon van die ou vlag meer as net aanstootlik is en eerder ’n simbool van “verontmensliking” van swart mense is.

Adv. Tembeka Ngcukaitobi, het gesê “AfriForum het misluk in sy pogings om te verduidelik waarom die ou vlag nie vertoon moet word nie en die FAK ‘dans’ om die werklikheid oor wat die betekenis van die ou vlag vir die meerderheid van mense in die land is.”

Ngcukaitobi het gesê daar is eenvoudig geen regverdiging vir die vertoon van die ou vlag wat swart mense misken en hul menswaardigheid krenk nie. Hy meen dit behoort ook nie in private huishoudings vertoon te word nie waar die meerderheid huiswerkers swart mense is en deur daaraan blootgestel te word, herinner word aan wat hulle onder apartheid deurgemaak het.

Ngcukaitobi het ook sover gegaan om AfriForum van blatante rassisme te beskuldig.

Adv. Iain Currie, wat namens die FAK betoog het, het gesê die verbanning van die ou vlag sal vryheid van spraak inperk.

Hy het gesê die Grondwet beskerm spraakvryheid, ook vryheid van spraak wat deur sommige as aanstootlik ervaar word. “Verdraagsaamheid vir aanstootlike idees beteken nie dit moet aanvaar word nie. Die politieke ‘markplein’ van idees het nie staatsinmenging nodig nie. Idees wat verkeerd of onaanvaarbaar is, sal deur ope debat gedevalueer word.”

Currie het dit duidelik gemaak dat AfriForum en die FAK glad nie vir vertoon van die vlag vra nie, maar wel dat dit ook nie verbied word wanneer dit gebeur nie. AfriForum en die FAK moedig mense ook onder geen omstandighede aan om die vlag te vertoon nie. Die argument is dat indien onsmaaklike, aanstootlike vryheid van spraak verbied word, dit vryheid van spraak in wese inperk. “Haatspraak is iets anders en daar is duidelike wetgewing wat uitstippel dat dit gepaard gaan met aanhitsing van geweld en haat en dat dit propaganda vir oorlog insluit. Daar moet duidelik tussen haatspraak en aanstootlike of skadelike spraak onderskei word.”

Die NMS en die Menseregtekommissie (MRK) het ’n aansoek gebring om ’n verklarende bevel te kry oor duidelikheid oor die definisie van haatspraak, soos vervat in art. 10 van die gelykheidswet (die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die voorkoming van Onregmatige Diskriminasie).

Die NMS het die aansoek aanvanklik teen AfriForum gebring nadat die NMS aangevoer het dat lede van die burgerregte-organisasie die ou vlag op Swart Maandag-protesoptogte teen plaasmoorde in 2017 vertoon het. AfriForum staan die aansoek teen en ontken ook die aantygings dat sy lede die vlag vertoon het.

Adv. Wim Trengrove, namens die MRK, het aangevoer AfriForum en die FAK het die verkeerde benadering in die saak gevolg en dat dit nie alleenlik oor vryheid van spraak gaan nie. Volgens hom moet beslis word of die vertoon van die ou vlag wat mense verneder en hul menswaardigheid aantas, nie wel op haatspraak neerkom nie.

Uitspraak in die saak is voorbehou.

Soortgelyke plasings