|

Nelson Mandela-stigting lieg blatant en help om SA te polariseer

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het vandag gereageer op die Nelson Mandela-stigting (NMS) se voorneme om Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by die organisasie, te vervolg ná die vlaguitspraak vroeër vandeesweek in die gelykheidshof.

Die hof het bevind die vertoon van die ou landsvlag kom op haatspraak neer.

Roets het ná die uitspraak in ’n akademiese konteks ’n foto van die ou vlag op Twitter geplaas met ’n vraag: Het ek nou net haatspraak gepleeg? Roets is tans besig met sy doktorsgraad in regte.

Kriel sê die NMS is oneerlik en speel tans ’n polariserende rol in die land. Dit doen ook afbreek aan die beeld van oudpres. Nelson Mandela as versoener.

Kriel het daarop gewys dat AfriForum die NMS nog voor die hofsaak genader het om gesprek oor die vlag te voer om te werk aan ’n samelewing gevestig op wedersydse erkenning en respek. Die NMS se aanname dat hulle AfriForum genader om saam te werk is ’n blatante leuen. Die waarheid is dat die NMS AfriForum se versoek verwerp het. Dit word bevestig deur afskrifte van korrespondensie met die NMS.

Oor die voorgenome saak teen Roets sê Kriel die NMS se drang om te verban en te sensor is so sterk dat dit bereid is om buite die bepalings van die uitspraak op te tree. Die hof het bevind die vertoon van die vlag is aanvaarbaar binne artistieke, joernalistieke en akademiese kontekste.

Kriel wys voorts daarop dat die NMS se optrede tot gevolg gehad het dat die vlag, wat grootliks in onbruik verval het, nou nuwe lewe en kultusstatus gekry het. Die ou vlag is ná die hofuitspraak wyd op sosiale media gedeel. “Ons pluk nou die wrange vrugte van die NMS se polariserende optrede.”

Soortgelyke plasings