|

Nathi Mthethwa arrogant om te dink hy kan oorlog se naam verander

Minister Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, kry die wind van voor oor sy aankondiging dat die Anglo-Boereoorlog (ABO) se naam amptelik na die Suid-Afrikaanse Oorlog moet verander.

Dit is veral historici wat meen Mthethwa het die kat behoorlik aan die stert beet en dat sy uitlatings eintlik niks anders is as ’n aanduiding van sy arrogansie en onkunde oor die geskiedenis nie.

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, sê die belaglikheid is in die eerste plek dat die oorlog wyd as “The South African War” bekend is en was, maar in die historiese konteks beteken “South African” egter die ZAR – een van die Boererepublieke teen wie Brittanje oorlog verklaar het.  “Die minister mag dus dink hy verbreed die term, maar in die wêreld van historici en die internasionale gemeenskap, verskraal hy dus die oorlog tot slegs een deelnemer, naamlik die ZAR.”

Volgens Bailey is die naamsverandering van die oorlogsmuseum in Bloemfontein ook ʼn gepeuter met die handelsmerk van internasionale faam. Dit getuig egter ook van arrogansie omdat dié instelling, sy vriende en ander betrokkenes skynbaar nie eers hieroor genader is nie.

“Die aksies moet gesien word as net nog ʼn poging van die huidige regering om alle Suid-Afrikaanse geskiedenis ‘oor te skryf’.  Dis ʼn laakbare praktyk wat getuig van die oorskrywers se gebrek aan insig en respek vir die verlede.”

Mthethwa het vandeesweek gesê die Oorlogsmuseum in Bloemfontein sal voortaan as die Suid-Afrikaanse Oorlogsmuseum bekendstaan.

Bailey het gesê gelukkig hoef historici hulle nie aan die jongste wanpraktyk te steur nie, aangesien mense sal voortgaan om die  oorlog te noem wat hulle wil, terwyl die woord “boeregeneraal” wêreldwyd nog steeds name soos De Wet, De la Rey,  Beyers, en vele ander oproep.

Willie Engelbrecht, voorsitter van die Bloemfonteinse Afrikanerkultuurraad, meen dit is skrikwekkend hoe die Afrikaner se kultuur en erfenis weereens deur die regering van die dag misken en uitgevee word.

“Op 12 Oktober 1899 het die regerings van die Zuid Afrikaanse Republiek en die Republiek van die Oranje Vrystaat oorlog verklaar teen Brittanje.  Dit was die twee Boererepublieke aan die suidpunt van Afrika. “Ons ontken nie die rol van anderskleuriges in die Anglo-Boereoorlog nie, baie het aan die kant van die boere geveg en ’n groot verskil gemaak.  Dit verander egter nie die geskiedenis nie!

“Tydens die ondertekening van die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 was daar  afgevaardigdes van Brittanje en van die twee Boererepublieke.  Die anderskleuriges was betrokke in die oorlog en is geraak deur die oorlog, maar was nie die betrokke regerings van die dag nie.”

Volgens Engelbrecht kan die ANC nie die naam van die oorlog verander nie omdat dit histories verkeerd is. “Die Anglo-Boereoorlog het gebeur en kan nie uitgevee word om polities korrek te klink nie.”

Prof. Fransjohan Pretorius, historikus en emeritusprofessor by Tukkies, meen geen naam sal bevredigend wees nie.

In sy boek The A- Z of the Anglo-Boer War, het hy gesê die oorlog het oor die jare verskeie name gekry. Nie een daarvan is ten volle aanvaarbaar tot die uitsluiting van andere nie.

Van die name wat in Groot Brittanje selfs ten tyde van die oorlog gebruik is, sluit in “Boer War”, “The Transvaal War” en “The South African War”.

Met elkeen van die name is daar ’n probleem omdat dit subjektief is en die oorlog net van een kant sien.

Pretorius se dilemma met die naam Suid-Afrikaanse Oorlog is dat dit rol en groot aandeel van die Engelse in die oorlog ontken.

Hy het gesê tydens die regering se herdenking van die ABO tussen 1999 en 2002 was daar ernstige pogings om die naam “Anglo-Boer South African War” te populariseer. “Daar was egter uit die staanspoor min entoesiasme vir die kunsmatige begeerte om polities inklusief te wees.”

Afrikaners het op hul beurt die oorlog “Die Tweede Vryheidsoorlog”, “Die Engelse Oorlog”, “Die Anglo-Boereoorlog” en selfs “Die Tweede Anglo-Boereoorlog” genoem. Ook van die name is egter subjektief en erken nie die deelname van andere soos selfs die Skotte, Kanadese, Australiërs, Nieu-Seelanders en natuurlik ook swart Suid-Afrikaners nie.

Pretorius se filosofie is dat beide name Anglo-Boereoorlog en Suid-Afrikaanse Oorlog gebruik kan word so lank dit amptelik erken dat dit ’n oorlog tussen die Boererepublieke aan die een kant en Groot Brittanje aan die ander kant was, terwyl swart mense militêr of polities betrokke was en gevolglik ook sosiaal en polities daardeur geraak is.

Lees ook ‘n Blog oor die Kwessie hier

 

 

Soortgelyke plasings