--> -->
Spyskaart +

Nasionale Gesondheidsverskering gaan die goue eiers vat tot die ganse wegvlieg

Augustus 15, 2018 deur Admin

“As jy dink gesondheidsorg is nóú duur – wag totdat dit gratis is,” het die konserwatiewe Amerikaanse politieke kommentator en vermaarde skrywer P.J. O’Rourke eens op ’n tyd opgemerk. Sy woorde was toe profeties omdat dit universeel so waar is.

In Suid-Afrika word daar nou met universele gesondheidsorg in die vorm van nasionale gesondheidsversekering (NGV) geëksperimenteer. ’n Wetsontwerp is in Junie 2018 in die Staatskoerant gepubliseer en die publiek het 90 dae om daarop kommentaar te lewer. Afhangend van wat tydens openbare deelname gebeur, sal die proses dan verder deur die regering en meer bepaald die departement van gesondheid gevoer word.

Hopelik vergeet hulle heeltemal van hierdie dwaas-idealistiese verbeeldingsvlug en is dit slegs ’n verkiesingsfoefie, maar ons kan beslis nie houtgerus wees nie. Afgesien daarvan dat daar steeds geen sekerheid bestaan oor hoe hierdie grandiose plan gefinansier gaan word of wie vir wat gaan betaal nie, blyk dit dat die regering geen bestek opneem van (of hulle steur aan) die gevolge wat so ’n plan gaan hê of oor presies watter dienste gelewer gaan word nie. Die ANC is immers onder druk met ’n verkiesing wat voorlê en geen belofte is té populisties of skadelik om nié te gebruik nie.

’n Beleid moet egter altyd aan sy uitvoerbaarheid en uiteindelik ook sy uitkomste gemeet word, eerder as aan die bedoeling. En NGV het sekere goeie bedoelings, soos om die openbare gesondheidsektor beter en meer toeganklik (en kwansuis steeds gratis) te maak. Die probleem is dat bykomende geld (wat uit bykomende belasting verkry gaan word) die openbare sektor nie veel gaan verbeter indien die onderliggende probleme nie aangespreek gaan word nie. Hierdie probleme sluit in kaderontplooiing, regstellende aksie, lae moraal, politieke inmenging, korrupsie op departementele vlak en nog vele meer. Meer geld gaan nie as inenting teen hierdie kwale kan dien nie en daarom help dit nie om spreekwoordelik nóg geld na ’n probleem te gooi nie.

Die probleem met politieke besluite wat dan op magiese wyse in die werklikheid beslag moet kry, is dat die impak dikwels anders is as waarvoor die staatsamptenare gehoop het. Die ANC en by implikasie ook die regering dink dat meer gegoede mense (wat in hierdie sin die middelklas insluit) sonder meer ekstra sal bly betaal vir ’n derdewêreldse stelsel wat hulle sal keer om uiteindelik eerstewêreldse mediese dienste te bekom (laasgenoemde is darem nou steeds moontlik danksy die privaat gesondheidsorgsektor). NGV sal dit uiteindelik onmoontlik maak vir die middelklas om sowel hul mediese fondse (wat vrywillig, dog noodsaaklik is vir hulle) as NGV-betalings (wat verpligtend, dog ongewens is vir hulle) by te bring. Privaat hospitale gaan nie net die minder talryke rykes – wat uiteraard ook kan en sal emigreer – kan bedien en bly voortbestaan nie; dus gaan hulle óf by die staat moet inval, óf toemaak. Alle uitnemendheid in die ganse gesondheidsorgsektor, tesame met vrye keuses wat gesondheidsdienste betref, gaan dan tot niet gaan.

Middelklasmense, laat staan nog die rykes, het tans min motivering nodig om te emigreer. Onteiening sonder vergoeding, ’n stotterende ekonomie, ’n rasbehepte regering en hoë misdaad is maar enkele redes waarom mense wat kán, kies om hul heil oorsee te gaan soek. Die inwerkingstelling van NGV sal stellig die kantelpunt wees wat ’n kritieke massa van middelklas- en ryk mense laat vlug. NGV se bron van finansiering sal heeltemal opdroog en hierdie mense sal ook nie meer belasting kan bydra om die res van die land se funksies te onderhou nie. ’n Stelsel of land is net so sterk soos die bydraes deur die mense in die land – dink maar aan die Sowjet-unie, wat uiteindelik ineengestort het.

Lande wat vaardige mense afskrik om aan te bly of soontoe te trek, en regerings wat alles gratis wil voorsien sonder dat hulle die middele het om dit te doen, betaal uiteindelik die prys. Hierdie mense is nie slawe met geen keuses nie. Niks is verniet nie en NGV-kostes sal só hoog wees dat dit die land geleidelik of selfs skielik sal vernietig. Mense wat dink hulle gaan gratis mediese dienste kry sonder om daarvoor te werk en betaal, gaan sien presies wat O’Rourke met sy stelling bedoel het wanneer die standaard van openbare gesondheidsorg (en ander dienste) nóg verder daal weens verlore belastingbetalers, dokters en ander medici.

NGV gee daarom nuwe betekenis aan die ou gesegde “om die gans te slag wat die goue eiers lê” (wat kortweg beteken om die bron van iets noodsaakliks of waardevols te vernietig). Dit sal waarskynlik eerder soveel goue eiers vat dat die ganse almal hul vlerke sprei en elders heen vlieg. Help ons om hierdie plan met mening te beveg en lewer kommentaar by www.jougesondheid.co.za

 

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by Afriforum