--> -->
Spyskaart +

Nasionale gesondheidsversekering sal nie werk nie – hetsy die staat daarmee deurdruk of nie

November 9, 2018 deur Admin

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het onlangs aangedui dat projekte te make met nasionale gesondheidsversekering (NGV) uitgestel sal moet word. Kortom, daar is nie geld nie omdat die tesourie in wese die departement se begorting sedert 2015 met R9 miljard besnoei het.

Terselfdertyd het die subsidies wat staatsamptenare vir bydraes tot mediese fondse ontvang, en belastingkrediete wat alle lede van mediese fondse ontvang, met R11 miljard gestyg.

Kortom: Geld wat vir NGV geoormerk was, gaan nou geherpriotiseer word om uitvoer te gee aan pres. Cyril Ramaphosa se belofte van 2200 bykomende mediese personeel en beddegoed vir beddens ingevolge die veelbewoë stimulusplan – iets wat Motsoaledi toe langtand, maar teësinnig aanvaar het. Tito Mboweni, minister van finansies, het tewens in sy mediumtermynbegrotingsraamwerk aangedui dat NGV anders aangepak en die openbare gesondheidsektor reggeruk moet word terwyl die privaat sektor ook by hierdie pogings betrek word.

’n Paar dae en menige negatiewe storie later, benadruk Motsoaledi egter dat NGV slegs uitgestel sal word, maar steeds voortgaan soos beplan – en bekla die feit dat die privaat sektor blykbaar soveel beter daaraan toe is.

Dit is dieselfde man wat voet by stuk gehou het dat NGV voortgaan en dat die tesourie eenvoudig die geld daarvoor moet vind. Hoe dit ook al sy: of die regering en betrokke ministers nou daarmee wil voortgaan of nie, die NGV is ’n doodgebore idee. Daar is verskeie redes hiervoor.

AfriForum het onlangs ’n kwalitatitiewe en kwantitatiewe studie hieroor onderneem en die feite bewys onteenseglik dat NGV nie moontlik is nie – tensy jy omvattende dienste aan die publiek bied en dit goeie gehalte dienste is, maar dis eintlik wat die openbare gesondheidsektor in elk geval tans bied.

Eerstens wil belastingbetalers nie daarvoor betaal nie en die land kan dit eenvoudig nie bekostig nie. Die AfriForum Navorsingsinstituut (ANI) het tesame met die Gemeenskapsake-afdeling in Julie en Augustus ’n peiling onder 34 000 AfriForum-lede gedoen. ’n Oorweldigende 96% van respondente het aangedui dat hulle gesondheid as baie belangrik beskou. Meer as driekwart het aangedui dat die openbare gesondheidsektor swak dienste aan die publiek lewer. Altesame 77,4% het aangedui dat hulle gewillig is om tot die NGV by te dra. Min dink egter NGV hou enige voordeel vir hulle in, en presies ’n derde – 33.3% – het aangedui dat hulle emigrasie sal oorweeg indien die NGV tot die einde van private gesondheidsdienste lei (’n verklaarde doelwit van Motsoaledi en ’n sterk moontlikheid indien NGV in werking gestel sou word).

Hoewel nie ’n volmaak passing nie, kan hierdie sentiment met redelike selfvertroue van toepassing op belastingbetalers en die middelklas veralgemeen word. Die regering, wat per fiat en met hovaardigheid die stelsel op die kleinerige segment belastingbetalers wil afdwing, het self geen sulke peilings onder die publiek en meer bepaald belastingbetalers gedoen om hul gevoel oor NGV te bepaal nie. As hulle het, sou hulle sien watter gevolge dit inhou – nie net vir die gesondheidstelsel nie, maar ook vir die land en die ekonomie. Indien ’n groot hoeveelheid belastingbetalers emigreer, gaan dit juis die bedryf van NGV ondermyn.

Die siening van medici is ewe negatief en wars. Nog ’n studie deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) onder gesondheidswerkers toon dat sowat 43% van respondente aangedui het dat hulle weens die NGV sal oorweeg om te emigreer. Die res is neutraal jeens dié opsie, behalwe vir die sowat 20% wat sê dat hulle dit nie sal oorweeg nie. Dit is uiters onrusbarende bevindinge in die lig van die groeiende tendens van gesondheidswerkers wat reeds die land verlaat en die uitdagings om genoeg mense op te lei. Die staat lei tans 1 800 gesondheidswerkers per jaar op. In die 1970’s was hierdie syfer 1 200 en boonop vir ’n baie kleiner bevolking.

Medici het opsluit ook rede tot kommer oor die regering se vasstelling van pryse onder die NGV en die staat se berugte laat betalings aan diensverskaffers, waarvan baie privaat onder NGV sal wees.

Die Kantoor vir die Voldoening aan Gesondheidstandaarde het bykans 700 openbare gesondheidsinstellings ondersoek tydens die saamstel van hul 2016/17-jaarverslag. Die nasionale prestasie vir hospitale was slegs 59%, 50% vir gemeenskapsgesondheidsentrums en 47% vir klinieke. Die slaagsyfer om vir NGV-behandeling te kwalifiseer, is 80%. Suid-Afrika se openbare gesondheidsektor is nie naastenby gereed vir NGV-diens nie en hierdie feit sal veroorsaak dat die las van behandeling na die privaat sektor sal skuif. Weldra sal die privaat sektor weens staatsinmenging en ’n ondraaglike las ten gronde gaan, op dieselfde vlak as die openbare sektor beland en/of bloot deur die staat oorgeneem word. Dit is daarom onverstaanbaar dat Motsoaledi bedroef is oor die aanstel van nog personeel en die regruk van hospitale as dit presies is wat buitendien behoort te gebeur. Wat verwag hy moet anders gebeur?

Volgens dr. Anthea Jeffery, hoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge se beleidseenheid, gaan die NGV honderde duisende nuwe burokrate benodig om byvoorbeeld die eise af te handel en aankope van medisyne te doen. Met die staat se salarisrekening wat reeds enorm is en die ekonomie wat aanhou om teen ’n sleurgang te groei, is sulke bykomende aanstellings totaal onregverdigbaar.

NGV is ’n uiters ondeurdagte en roekelose plan wat geen kans op sukses het nie. Die NGV gaan ’n massiewe en onbekostigbare burokrasie skep wat in wese ’n herhaling is van die wanfunksionele openbare gesondheidsektor soos wat dit tans daar uitsien. Of dit dan teen wil en dank uitgevoer sal word, en of dit gelos of uitgestel gaan word, is daarom van geringe belang in die lig van hierdie feite.

* Dr. Eugene Brink is strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum