Naledi Plaaslike Munisipaliteit sny Eskom se krag


Die Naledi Plaaslike Munisipaliteit het die Eskom-kantore in Vryburg se elektrisiteitstoevoer afgesny weens ’n agterstallige rekening.

“’n Anonieme oproep het aangedui dat dit waarskynlik gebeur het; ek het ondersoek gaan instel by die Eskom-kantore en dit gesluit gevind. ’n Sekuriteitswag het my meegedeel dat die elektrisiteit afgesny en die kantore gesluit is,” sê Alta Pretorius-Swart, AfriForum se streekskoördineerder vir Stellaland.

In ’n opvolgtelefoongesprek het die waarnemende munisipale bestuurder, Conny Malefo, verduidelik dat Eskom se elektrisiteitsrekening agterstallig is, hoewel Eskom dit ontken. Die munisipaliteit het die kragreus gevra om ’n vergadering te skeduleer sodat die rekening gerekonsilieer kan word. Volgens Malefo het Eskom egter versuim om dit te doen en is hulle elektrisiteit derhalwe afgesny.

“Die inwoners van Vryburg is verslae. Die swaard van elektrisiteitsonderbrekings hang reeds oor hulle koppe, aangesien die munisipaliteit blykbaar nie die geld in die hande kry om die dorp se krag aan te hou nie. ’n Mens kan net dink watter gevolge hierdie optrede van Naledi vir die dorp en die verbruikers sal hê,” sê Pretorius-Swart.

Wys jou steun vir AfriForum: SMS “Afgesny” na 45351 (R1 per SMS).

Soortgelyke plasings