--> -->
Spyskaart +

Naledi moet waterbesoedeling voorkom – AfriForum

Mei 24, 2013 deur afriministrator

AfriForum het die Naledi Plaaslike Munisipaliteit in Vryburg versoek om die situasie by die watersuiweringsaanleg reg te stel nadat ʼn ondersoek na omgewingsbesoedeling geloods is.

Volgens Julius Kleynhans, hoof van omgewingsake by AfriForum, kan die probleme van ʼn wanfunksionerende aanleg ʼn beduidende impak op menslike gesondheid en die omgewing hê. “Wanneer die aanleg nie doeltreffend werk nie, is dit moontlik dat die verwerkte afvalwater wat gestort word nie aan nasionale standaarde voldoen nie, wat kan lei tot die besoedeling van waterbronne. Dit kan katastrofiese gevolge hê,” het Kleynhans bygevoeg.

AfriForum het ʼn vergadering met senior bestuur van die Naledi Plaaslike Munisipaliteit gehou oor die toestand by die aanleg. “Die bestuur het toegegee dat die aanleg nie funksioneer nie. Ons het die munisipaliteit versoek om die situasie onmiddellik reg te stel om omgewingsbesoedeling te voorkom,” het Herman Kotze, voorsitter van AfriForum se Vryburg-tak gesê.

Die munisipaliteit is versoek om onmiddellik met ʼn kontrakteur te reël om die probleme te identifiseer en met oplossings vorendag te kom. “Ons het op 7 Mei 2013 ʼn terreininspeksie gehou en ʼn ingenieur wat by die opgraderingsprojek betrokke is, genooi om dit by te woon. Hy het ʼn noodplan aan ons voorsien.”

Ons, as inwoners van die gemeenskap, is bekommerd oor die situasie by die aanleg. Dit is maar vyf maande sedert die aanleg opgradeer is en dit is reeds buite werking,” het Kotze bygevoeg.

AfriForum sal verdere stappe doen indien Naledi nie optree nie.

Om by die AfriForum-tak aan te sluit, SMS “Vryburg” na 34188. SMS’e kos 50c.