Naboomspruit- en Nylstroom-inwoners moet teen foutiewe waardasierolle appelleer


AfriForum se takke in Naboomspruit en Nylstroom het reeds meer as 100 mense gehelp om appèlvorms teen die nuwe waardasierol van die Lim 368 Munisipaliteit in te dien. Van dié eiendomme se waarde is op dié waardasierol met tussen 30% en 235% verhoog.
Volgens Phillip van Staden, AfriForum se voorsitter vir die Naboomspruit-tak, is daar ook baie inligting wat nie op die nuwe waardasierol verskyn nie.

“Sekere eienaars se besonderhede is verkeerd of hulle verskyn foutiewelik op die waardasierol, en sekere eiendomme verskyn glad nie op die waardasierol nie. Van die adresse is ook foutief.”

AfriForum moedig inwoners aan om die waardasierol te bestudeer en seker te maak dat hul eiendomme reg gewaardeer is.

“Geaffekteerde eienaars wat nie appèl teen die foutiewe waardering van hul eiendom aanteken nie, sal dit aan hul sakke voel,” sê Van Staden.

Naboomspruit se waardasierol en appèlvorms is by die Naboomspruit-biblioteek beskikbaar. Nylstroom se waardasierol en appèlvorms is by die munisipale kantore beskikbaar.
Vir meer inligting of bystand, skakel vir Phillip van Staden by 072 604 7204.

Soortgelyke plasings