--> -->
Spyskaart +

’n Republiek is gebore

Mei 31, 2019 deur Admin

Deur Ilze Nieuwoudt

Die droom van ’n republiek het op 31 Mei 1961 ’n (harde) realiteit geword. Tog het hierdie ideaal reeds meer as honderd jaar vantevore diep deur die are van Europese setlaars aan die suidpunt van Afrika gebruis. Vorige probeerslae is opgebou en vernietig, oorloë het intussen gewoed, ’n groot besluit is met kruisies geneem, dinge het dieselfde gebly en nuwighede is ingevoer – dít is die geboorteverhaal van die Republiek van Suid-Afrika.

Vorige probeerslae

Soos talle goeie stories oor die Suid-Afrikaanse verlede, begin dié een ook by die Groot Trek. Die strewe na vryheid het duisende Kaapse Boere in die 1830’s gedwing om Britse oorheersing te ontsnap, die relatief onbekende binneland in te trek en teen die einde van 1837 die Republiek van Natalia te stig. Hieroor skryf die historikus Jan Visagie in Geskiedenis van Suid-Afrika: Van voortye tot vandag: “Die Voortrekkers het heeltemal weggebreek van die monargistiese staatstelsel en, ongeag aanvanklike gebreke, ’n nuwe republikeinse bestuurstelsel geskep.” Sodoende is die heel eerste republiek in Afrika gevestig.

Natalia se republiek was egter van korte duur en het teen 1843, ná anneksasie deur die Britte, tot niet gegaan.

Die totstandkoming van die twee Boererepublieke van die Oranje-Vrystaat en Transvaal (die ZAR) in 1854 en 1857 onderskeidelik het weer eens die republikeinse ideale verwesenlik. Ná twee uitmergelende oorloë teen die Britte (1880-1881 en 1899-1902) kom ook dié republieke tot ’n einde. Op 31 Mei 1902 – ’n datum wat in die komende dekades herhaaldelik prominente gebeure sou aanskou – word die Anglo-Boereoorlog amptelik beëindig met die ondertekening van die Vrede van Vereeniging.    

 Tussentyd

In die jare wat op die Anglo-Boereoorlog gevolg het, sou die Afrikaner weer onder die Britse kroon staan. Op 31 Mei 1910 kom die Unie van Suid-Afrika tot stand en verenig daardeur die twee voormalige Boererepublieke (OVS en ZAR) sowel as die Britse kolonies van Natal en die Kaap tot ’n eenheid. Die unie het (ten minste in naam) die vereniging van die Afrikaanse en Engelse “rasse”, soos wat daar destyds na dié twee gemeenskappe verwys is, ten doel gehad. Onderlinge struwelinge het egter steeds voortgewoed en die 1914-Rebellie, waarin ’n groep Afrikaners in opstand gekom het teen die regering van Louis Botha en die unie se deelname aan die Eerste Wêreldoorlog, het die verskille herbeklemtoon. Boonop het die droom van ’n republiek, vry van Britse inmenging, steeds in die harte van talle Afrikaners geklop.

Die Nasionale Party se oorwinning in die 1948-verkiesing was uiteindelik die begin van ’n nuwe era. Met ’n republikeinsgesinde party aan die stuur van sake het die kans op die vestiging van ’n republiek weer moontlik geword. 

’n Kruis word getrek

Toenmalige eerste minister Hendrik Verwoerd het op 20 Januarie 1960 aangekondig dat die tyd ryp geword het vir die vestiging van ’n republiek. Hoewel die regering van die tyd sterk ten gunste van ’n republiek was, en dus die wegbreek van die Britse kroon voorgestaan het, is besluit om ’n referendum vir wit kiesers uit te roep. “Ek kondig dus aan dat die vraag aan die volk sal gestel word by wyse van ’n referendum. Die rede waarom die metode gekies word is omdat dit ’n vraagstuk geld waaroor ’n volk oor sy toekoms moet kan oordeel, vry van alle ander verwikkelinge,” het Verwoerd in ’n toespraak gesê. Voorts sou die vestiging van ’n republiek minimale veranderinge aan die bestaande parlementêre instellings, wetgewing, burgerskap, nasionale lied, vlag of grondwetlike praktyke tot gevolg hê.

Verwoerd het dit duidelik gestel dat die nuwe Grondwet van die republiek drie belangrike eienskappe sou hê: dit sou ’n republiek wees wat op Christelike waardes en norme gebaseer is; dit sou ’n demokratiese stelsel met ’n parlementêre regeringsvorm behou; en dit sou die taalregte van Afrikaans- én Engelssprekendes beskerm.

Die vraag wat uiteindelik op 5 Oktober 1960 aan wit kiesers gestel is, was bloot: “Is u ten gunste van ’n republiek vir die unie?” Talle mense, wit én swart (wat wel nie in daardie stadium toegelaat is om aan die referendum deel te neem nie), was steeds teen die vorming van ’n republiek gekant. Die uitslag was nie ’n oorweldigende “Ja” nie, maar ’n oorwinning ten gunste van die vestiging van ’n republiek is tog behaal met nagenoeg 75 000 stemme. Die finale uitslag was 850 458 ten gunste van, en 775 878 teen die totstandkoming van ’n republiek.

Verwoerd was tevrede met die uitslag en die nuwe eenheid wat tussen Afrikaans- en Engelssprekendes sou heers so beskryf: “Ons het bo kleinlikheid en selfsugtigheid uitgestyg [ … ] Die Engelssprekende en Afrikaanssprekende dele is soos ’n nuwe bruid en bruidegom wat die nuwe lewe in liefde betree en as lewensmaats saam bou en saam leef.”

Volgens David M. Scher, ’n lektor in geskiedenis aan die Universiteit van die Wes-Kaapland, het Verwoerd “geglo dat ’n republiek Suid-Afrika se onafhanklikheid sou waarborg, wit eenheid sou bevorder en die raamwerk sou verskaf vir ’n bevredigende oplossing vir die rassevraagstuk”.

Die 1960’s was gekenmerk deur talle uitdagings in die Suid-Afrikaanse politiek en die vestiging van ’n republiek het ook nie sonder ’n prys gekom nie. In sy toespraak in 1961 tydens die opening van die nuwe akademiese jaar van die Universiteit van Stellenbosch het die toenmalige rektor, prof. H.B. Thom, byna profeties verklaar wat dié mylpaal in die Suid-Afrikaanse geskiedenis beteken:

Ons republiekwording sal beteken dat ons ’n verdere stap op die weg van konstitusionele ontwikkeling gedoen het. Dit sal beteken dat Suid-Afrika die grootste moontlike mate van staatkundige onafhanklikheid vir homself opgeëis het. Dit sal beteken dat hy tot die staatkundige mondigheid gekom het en nou bereid is om die volle implikasies daarvan te aanvaar. Hy sal ’n Republiek word al sou dit ook meebring dat hy dan nie meer as lid van die Britse Statebond toegelaat sal word nie.

            Waar republiekwording groter selfstandigheid beteken, sal dit terselfdertyd, wat leierskap en verantwoordelikhede betref, groter eise aan ons stel.

[ … ] Maar laat ons onsself nie mislei nie: Ons Republiek, met die groter selfstandigheid wat hy gaan bring, gaan ook veel meer van ons vra.

Amper uitgeskop!  

Die besluit vir die vestiging van ’n republiek en Suid-Afrika se binnelandse beleid het vroeg in 1961 ’n belangrike kwessie in gedrang gebring, naamlik Suid-Afrika se lidmaatskap van die Statebond. Volgens Fred Barnard, Verwoerd se sekretaris, het dié leier nie oor Suid-Afrika se voortgesette lidmaatskap van die Statebond getwyfel nie en dit “as ’n blote formaliteit beskou”. Druk oor Suid-Afrika se binnelandse beleid het egter steeds opgebou en in Maart 1961 het Verwoerd Suid-Afrika se aansoek om voortgesette lidmaatskap van dié organisasie teruggetrek. Hierdeur het Suid-Afrika homself kwesbaar gelaat – en die politieke, ekonomiese en militêre beskerming wat deur die Statebond gebied is, verloor. Tog is die uittrede plaaslik grootliks verwelkom en Suid-Afrikaners het gereed gemaak vir die amptelikhede vir die totstandkoming van die Republiek van Suid-Afrika.

31 Mei 1961 – die geboortedag van die Republiek

Ten spyte van struwelinge, is die republikeinse ideaal uiteindelik op 31 Mei 1961 verwesenlik met die totstandkoming van die Republiek van Suid-Afrika. Adv. C.R. Swart is as die land se eerste staatspresident ingehuldig, terwyl ander verrigtinge op Kerkplein in Pretoria plaasgevind het. Hiermee is die vryheid (waarvoor generasies lank gestry én gewerk is) los van Britse heerskappy uiteindelik behaal. Volgens die historici André Wessels en Anna-Karin Evaldsson het republiekwording vir baie Afrikaners die verlies van republikeinse vryheid van 1902 herstel.

31 Mei: ’n Dag van groot waarde

Verskeie prominente gebeure in die geskiedenis van die Afrikaner het op 31 Mei plaasgevind. Dit was juis daarom dat die keuse van 31 Mei 1961 so merkwaardig was. Hier is enkele van dié historiese gebeure:

  • 31 Mei 1902: Die Vrede van Vereeniging word onderteken. Dit bring ’n einde aan die Anglo-Boereoorlog en ’n finale doodhou vir die republieke van Transvaal en die Oranje-Vrystaat.
  • 31 Mei 1910: Die Unie van Suid-Afrika kom tot stand en genl. Louis Botha word aangewys as eerste minister.
  • 31 Mei 1928: Die nuwe Unievlag (ook die vorige Suid-Afrikaanse landsvlag) word vir die eerste keer in Kaapstad gehys én “Die Stem” word vir die eerste keer tydens ’n amptelike staatsgeleentheid gesing.
  • 31 Mei 1961: Die Republiek van Suid-Afrika kom tot stand.

Vier feite oor republiekwording in Suid-Afrika

  1. Die amp van goewerneur-generaal is vervang deur dié van ’n staatspresident. Adv. C.R. Swart, wat goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika was, is op 31 Mei 1961 ingehuldig as die eerste staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika. Hy was die amptelike staatshoof, maar die amp was tot in 1984 merendeels seremonieel van aard.
  2. Die amp van eerste minister is behou ná republiekwording. Verwoerd het tot 1966 as eerste minister gedien, waarna John Vorster en P.W. Botha gevolg het. Die amp het in 1984 verval en met dié van staatspresident saamgesmelt.
  3. Rand en sent het die pond en pennies vervang. Die Britse pond is tot in 1921 in Suid-Afrika gebruik, waarna die Suid-Afrikaanse pond in gebruik geneem is. Die rand is in 1961 ingestel teen ’n wisselkoers van R2 teenoor £1.
  4. Die Suid-Afrikaanse ekonomie het merkwaardige groei getoon in die 1960’s, naamlik 6%. Die Financial Mail het die periode tussen 1961 en 1966 as die “wonderjare” vir Suid-Afrika beskou toe die land se bruto binnelandse produk in reële terme met 30% gestyg het.

 

Bronne:

Christofides, J. 1987. “A political analysis of the 1983 referendum in the Republic of South Africa”. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit van Pretoria.

Giliomee, H. & Mbenga, B. 2007. Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. Kaapstad: Tafelberg.

Scher, D.M. 2012. “Die vestiging van die apartheidstaat, 1948-1966”, in Fransjohan Pretorius (red.), Geskiedenis van Suid-Afrika: Van voortye tot vandag. Kaapstad: Tafelberg in opdrag van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, pp. 323-343.

Thom, H.B. 1961. “Die uitdaging van die toekoms”. Toespraak gehou tydens die opening van die Universiteit van Stellenbosch se akademiese jaar.

Visagie, J. 2012. “Uittog en vestiging van die Voortrekkers in die binneland”, in Fransjohan Pretorius (red.), Geskiedenis van Suid-Afrika: Van voortye tot vandag. Kaapstad: Tafelberg in opdrag van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, pp. 131-150.

Wallis, F. 2000. Nuusdagboek: Feite en fratse oor 1 000 jaar. Kaapstad: Human & Rousseau.