--> -->
Spyskaart +

’n Onderwyser

Oktober 5, 2018 deur Carien Bloem

Tussen 2009 en 2013 het ek die voorreg gehad om myself vir ’n paar jaar in die onderwys te bevind – as onderwyser, registervoog, redenaarsorganiseerder, VLR-voog, redakteur van die skoolkoerant en die tegniesetafelbeampte tydens hokkiewedstryde – ’n titel wat ek destyds nie eers geweet het bestaan nie (die tegniesetafelbeampte van elke span hou onder meer tydens die wedstryd tyd en telling). Dis reg, ’n onderwyser moet amper alles kan doen.

Ek was vars uit universiteit en gereed om alles wat voor my deur geland het met ywer aan te pak. Min het ek geweet dat jou taak en verantwoordelikheid as onderwyser veel wyer as klasgee strek. Vinnig-vinnig het ek ook besef dat jou werk nie tot ’n einde kom om 14:00 as die skoolklok lui nie. Hoekom? Twee woorde: merkwerk en buitemuurs.

En môre moet jy weer vars en wakker wees. Gereed om te leer, dissiplineer, grappe te maak en trane af te vee. So lekker en bevredigend soos wat dit is om met kinders en tieners te werk, is dit eweneens uitputtend en wil jy soms die (klaskamer)mure uitklim.

Nietemin rus daar ’n groot verantwoordelikheid op jou skouers. Jy moet bereid wees om jou hart en siel in jou werk – nee, roeping – te stort.

Die klaskamer is nie soos ’n fênsie lugverkoelde kantoor waar jy enige tyd kan uitglip om vir jou ’n koppie koffie te gaan maak of na jou Facebook-blad te loer nie. Nee, dis bloot ’n verhoog waar jy die geleentheid kry om in ’n kort tyd ’n belangrike rol in die slyp van elke leerder se toekoms te speel.

Ek is al jare nie meer ’n juffrou nie, maar as ek oudleerders raakloop word ek steeds met dié titel gegroet. ’n Belangrike titel wat nie elke dag die nodige erkenning kry wat dit verdien nie.

Vandag vier ons Wêreldonderwysersdag. In ’n land waar onderwysers toenemend geweldig baie uitdagings in die gesig staar, wil ek net dankie sê.

My wens aan elke onderwyser op hierdie dag is dat jy moet weet jy is onvervangbaar en dat geen land sonder onderwysers kan funksioneer nie.

Op hierdie dag dink ek aan Corné van Wyk, ’n Afrikaanse onderwyser aan Hoërskool Menlopark, se gedig Windpomp:

 

Windpomp

(aan elke leerling wat my hart op ’n spesiale manier aanraak […])

jy is die droë Karoo-wind

wat fluitend deur die wiek van my siel gly,

suiwer water van kreatiwiteit laat opborrel

vanuit my diepste menswees

 

want,

ek wil volloop

oorloop

versadig wees

 

sodat wanneer ek ophou draai

daar steeds genoeg van my sal wees

om elkeen se gebarste

dorre

droë

hart

se roes te verwyder

en liefde in oorvloed  te laat bot

 

(dis hoe dit is)

 

* Carien Bloem, koördineerder vir onderwysveldtogte by AfriForum