Spyskaart +

’n Nuwe Afrikaanse universiteit

Maart 8, 2018 deur Admin

Prof. Danie Goosen

Afrikaanssprekendes het rede om diep verontwaardig te voel oor die vyandigheid waarmee Afrikaans op universiteite en in skole hanteer word. Alle kultuurgemeenskappe het immers die universele reg om hul onderskeie tale tot op die hoogste vlak te ontwikkel.

Ons wil egter nie hieronder by ons verontwaardiging oor die druk op Afrikaans stilstaan nie. Kom ons fokus eerder op die toekoms. Daar is immers werk om te doen. ’n Eie Afrikaanse universiteit moet gebou word. Laat ons nie ons aandag deur kragte aflei wat onsimpatiek en selfs vyandig teenoor Afrikaans staan nie.

Die vraag waarby ek hieronder wil stilstaan, is hoe ons Afrikaanse universiteit van die toekoms sal lyk. Gaan dit ’n universiteit soos ander universiteite wees, met die enkele uitsondering dat dit ook Afrikaans sal wees?

Of gaan dit ’n universiteit wees wat selfs veel méér as die bestaande universiteite bied? En as dit so is, wat sal so ’n universiteit kenmerk?

As ek nou reeds iets daaroor kan sê: Ons nuwe universiteit sal deur twee oorhoofse eienskappe gekenmerk word.

Eerstens sal dit, soos ander vooraanstaande universiteite, ’n sentrum van hoogstaande opleiding in Afrikaans wees. Die suksesvolle toetrede van studente tot die arbeidsmark is hier ’n belangrike oogmerk.

Tweedens sal dit ook ’n universiteit wees wat deur die klassieke ideaal van opvoeding gekenmerk word. Wat beteken laasgenoemde?

In aansluiting by suksesvolle universiteite elders in die Westerse wêreld het die klassieke ideaal van opvoeding ten doel om nie net studente in die verskillende dissiplines op te lei nie, maar ook om hulle vanuit die bronne van die Westers-Christelike denke en kultuur tot insig in die groter geheel van dinge te lei. As opleiding met ‘kennis’ te doen het, het opvoeding met ‘wysheid’ te doen. Ons toekomstige universiteit gaan studente in staat stel om beide op ’n uitnemende wyse te beoefen.

Is dit alles wensdenkery? Inteendeel. In en deur Akademia, die nuwe Afrikaanse universiteit, word die grondslae daarvan reeds stewig neergelê. Hierin lê enorme hoop opgesluit – asook vergesigte van ’n ‘helder lewe’ anderkant die verontwaardiging en selfs hopeloosheid van die hede.

(Prof. Goosen is voorsitter van die FAK-direksie.)