Spyskaart +

‘n Dubbele strategie teen plaasmoorde

Junie 27, 2013 deur Ernst Roets

Die rug toegekeer

“Luister na my wanneer ek hierdie bundel aan jou oorhandig. Ek gee dit nie vir jou omdat ek wit is nie. Ek gee dit vir jou omdat ek ‘n Suid-Afrikaner is en omdat julle ‘n verantwoordelikheid het om alle Suid-Afrikaners te beskerm – dit sluit die boere in.”

Dit was die woorde van Belinda van Noord op 17 Januarie 2013 aan kolonel Simon Chabangu, sekretaris van die minister van polisie, Nathi Mthethwa. In haar hande was ‘n rooi lêer. In die rooi lêer was ʼn honderd briewe, wat geskryf is deur slagoffers van plaasaanvalle. Belinda se eie broer is skaars ‘n week vantevore begrawe, haar pa kort daarvoor. Albei is koelbloedig in hul plaasslaghuis naby Brits doodgeskiet.

In haar eie brief skryf sy:

“Suid-Afrikaanse burgers is nie meer veilig nie, want gewelddadige misdadigers loop in ons strate, ons stede, ons dorpe en ons platteland rond. Daar gaan bykans nie ʼn dag verby waarop daar nie berigte is van mense wat in hulle eie huise aangeval is, van vroue wat wreed aangerand en verkrag is, in sommige gevalle terwyl kinders moes toekyk hoe hulle ouers vermoor word. As die regering “Red die Renoster” kan prioritiseer, waarom kan die regering nie sy eie landsburgers beskerm nie? Is die lewe van ‘n dier meer werd as die lewe van ‘n boer?”

Wat Belinda tydens die oorhandiging van die briewebundel nie geweet het nie, is dat die minister van polisie toe reeds ‘n mediaverklaring oor haar uitgereik het. Hy was bewus van die feit dat AfriForum haar bygestaan het. In sy mediaverklaring van 17 Januarie 2013 skryf hy:

” Die ministerie van polisie het ‘n onrusbarende tendens by Afriforum (sic) oor die afgelope paar jaar opgemerk, wat die potensiaal het om ons pogings om misdaad te bekamp aan bande te lê.”

Nog voordat hy die briewe ontvang het, het hy die oorhandiging as ‘n blote “publisiteitsfoefie” beskryf, wat nie met erns bejeën kan word nie. En hy sê:

“We therefore strongly condemn such actions and urge Afriforum to stop misleading the public, compromising government’s efforts on crime and begin to contribute to the fight against crime through intellectual, society-building initiatives and developmental safety agendas.

The continuous mocking, grandstanding and publicity-seeking stunts at the expense of real crime victims do not serve any good cause. We urge Afriforum (sic) to refrain from their divisive approach of racialising crime. Crime affects us all, black or white, young or old, rich or poor. What concerns us is to fight crime, fight it smartly and toughly.”

‘n Maand en ‘n half vantevore, op 1 Desember 2012, het honderde boere voor die minister van polisie se kantoor gestaan. Baie van hulle het plaasaanvalle oorleef – sommige het letsels gehad om te wys, fisieke en emosionele letsels. Belinda van Noord was nie daar nie. Haar pa en broer het nog gelewe.

Die minister het uit sy pad gegaan om te verhoed dat die optog plaasvind en dit selfs as ‘n onwettige optog bestempel, wat AfriForum gedwing het om die Hooggeregshof op ‘n dringende basis te nader vir ‘n verklarende bevel dat die optog mag voortgaan.

Die optoggangers het by ‘n geslote departement van polisie gearriveer en die minister het geweier om die memorandum te ontvang. In reaksie op medianavrae het hy by monde van sy woordvoerder gesê dat hy plaasmoorde nie kan prioritiseer nie omdat die meerderheid boere wit is en dat hy nie bereid is om deur ‘n rassebril na misdaad te kyk nie.

Die minister het voorts gesê dat AfriForum en dié wat op die prioritisering van plaasmoorde aandring ‘n rasse-agenda het en dat ons moet besef dat boere nie “goue seuns en dogters” is wat op spesiale behandeling geregtig is nie. Hy sê verder dat die polisie ‘n omvattende landelike veiligheidsplan het en dat plaasmoorde wel deur die polisie hanteer word, maar dat plaasmoorde maar net nog ‘n vorm van moord is. Dit sou nie sin maak om plaasmoorde te prioritiseer nie, aangesien plaasmoorde moord is en hulle nie bereid is om een vorm van moord bo die res uit te lig nie.

Ten spyte van die afmetings wat hierdie kwessie aangeneem het, weier die minister van polisie botweg om te erken dat plaasmoorde ‘n krisis is.

Die deprioritisering van plaasmoorde

Die ironie is dat plaasmoorde in die verlede wel ‘n prioriteit vir die regering was.

  • In 1997 het die regering gesê dit wil voorkom asof boere op ‘n unieke manier geteiken word in gewelddadige en moorddadige aanvalle. Statistiek oor plaasmoorde is jaarliks bekendgestel en die regering het selfs ‘n taakspan saamgestel met die doel om ‘n plan teen plaasaanvalle op te stel.
  • In 1999 is die Joint Operational and Intelligence Structure Priority Committee saamgestel met die doel om landelike veiligheid as nasionale prioriteit te hanteer.
  • In 2001 is ‘n komitee van ondersoek oor plaasmoorde van stapel gestuur.
  • In 2003 het voormalige president Thabo Mbeki teen alle verwagtinge in ‘n aankondiging gemaak dat die kommandostelsel afgeskaf word en vervang sal word deur ‘n struktuur wat deur die polisie beheer word (hierdie belofte is teen 2013 nog nie vervul nie). Statistiek oor plaasmoorde is egter steeds vrygestel.
  • Kort na die afskaffing van die kommando’s het plaasmoorde begin toeneem. In 2007 het aanvalle op plase met bykans 25% toegeneem. Die minister van polisie het hierop gereageer dat geen verdere statistiek oor plaasmoorde vrygestel mag word nie en ‘n nuwe “Rural Safety Strategy” in plek gestel. Volgens hierdie beleid was plaasmoorde, ten spyte van die skerp styging, amptelik nie meer ‘n prioriteit nie.

Die departement van polisie se besluit teen die prioritisering van plaasmoorde is geneem ten spyte van sy eie kommissie van ondersoek se bevinding dat daar minstens 6122 plaasaanvalle en 1254 plaasmoorde tussen 1991 en 2001 was. Die tempo waarteen plaasmoorde gepleeg is, het vanaf 1991 tot 1998 meer as verdubbel. In die jaar waarin die regering besluit het dat plaasmoorde nie ‘n prioriteit mag wees nie, kan die moorde op kommersiële boere (uitgesluit hul families en werkers) bereken word op 98,8/100 000. Dit was meer as drie keer hoër as Suid-Afrika se nasionale gemiddeld en veertien keer hoër as die wêreld gemiddeld (bron: ISS)

Gedurende 2011 is die moordsyfer op polisiebeamptes bereken op 51/100 000. Dit is omtrent die helfte wat die moordsyfer op boere reeds vier jaar vantevore was. Die regering se reaksie op die laaste syfer was egter om ‘n nasionale beraad oor polisiemoorde te organiseer en ‘n teenstrategie op te stel.

Vandag word geen amptelike statistiek oor plaasmoorde uitgereik nie en word dit aan die burgerlike samelewing oorgelaat om statistiek op te stel. In hierdie verband speel organisasies soos TLU SA ‘n rol wat van onskatbare waarde is. Kraal Uitgewers se boek Treurgrond is vandag die toonaangewende gesag wat syfers oor plaasmoorde betref.

Wat ook in die boek Treurgrond uitgelig word, is die unieke aard van plaasmoorde. Dit is naamlik die absolute brutaliteit daarvan. Krimonoloog Lorraine Claassen het onlangs in ‘n navorsingstuk bevind dat die brutaliteit van plaasmoorde vergelyk kan word met terroriste-aanvalle. Eileen de Jager van Crime Scene Cleanup (ook bekend as die “Bloedsusters”) het verklaar dat hulle al bykans alle tipe moordtonele moes skoonmaak en dat daar geen misdaad is wat met die wreedheid van plaasmoorde vergelyk kan word nie.

‘n Verdere eiesoortigheid van plaasmoorde is die unieke rol wat die slagoffers van hierdie misdaad in die gemeenskap speel. Boere is werkskeppers en onderhouers van gemeenskappe. Hulle is voedselproduseerders en ekonomie-bouers. Elke keer wanneer ‘n boer vermoor word, word ‘n plaas vernietig. Elke keer wanneer ‘n plaas vernietig word, word ‘n gemeenskap geknou.

Die vierde eiesoortigheid van plaasmoorde – en uit ‘n praktiese oogpunt, waarskynlik die belangrikste – is die feit dat boere in unieke omstandighede in verafgeleë gebiede woon, waar die reaksietyd van die polisie en selfs van die bure nie na wense is nie.

Dit is juis op grond hiervan dat die prioritisering van misdade moet geskied. Ons sê nie dat plaasmoorde geprioritiseer moet word omdat boere na ons mening goue seuns en dogters is, soos wat die minister in die media verklaar nie. Plaasmoorde moet geprioritiseer word omdat dit ‘n eiesoortige misdaad is en omdat eiesoortige misdade met eiesoortige teenstrategieë bekamp moet word.

Die minister se ideologiese onderrok hang uit wanneer hy argumenteer dat plaasmoorde nie geprioritiseer kan word nie omdat plaasmoorde eintlik maar net ‘n vorm van moord is en dit nie sin maak om ‘n spesifieke vorm van moord bo ander uit te lig nie. Indien hierdie argument konsekwent toegepas word,

  • hoe verklaar die minister die regering se besluit om die stropery van renosters te prioritiseer?
  • hoe verklaar die minister die regering se besluit om die diefstal van koperkabels te prioritiseer?
  • hoe verklaar die minister die regering se besluit om die aanranding van vroue en kinders te prioritiseer?
  • hoe verklaar die minister die regering se besluit om geweld in bendeverband te prioritiseer?

Ons moet besef dat die regering en die minister van polisie in besonder se houding jeens plaasmoorde nie op logika, intellek of opregtheid gebaseer is nie. Plaasmoorde word nie geprioritiseer nie omdat die prioritisering daarvan op ‘n erkenning deur die regering sou neerkom dat moorde op boere handuit geruk het. Dit sou die regering in ‘n politieke verleentheid plaas as hulle moet erken dat diegene wat die swaarste onder misdaad gebuk gaan nie die regerende party se kieserskorps is nie, maar dié teenoor wie die regerende party in die openbaar geweld romantiseer.

Waarheen van hier af?

Dit bring ons by die vraag: Wat nou?

Ons glo nie dat mooipraatjies daartoe sal lei om plaasmoorde te laat prioritiseer nie. Dit beteken dat ons ‘n herevaluering sal moet doen oor ons strategie in hierdie verband. Ons sal ‘n dubbele strategie teen plaasmoorde moet volg, net soos wat die ANC van ouds ‘n dubbele strategie gevolg het.

Die ANC het in sy beleidsdokumente verwys na die sogenaamde “parallel paths to power”. Oliver Tambo het hierna verwys toe hy gesê het dat die ANC se stryd op twee voete moet stap, een polities en een militêr. In Mandela se afwesigheid was Mbeki die de facto leier van die politieke been, wat vir ‘n politieke skikking gevra het. Aan die ander kant was Chris Hani op die voorpunt met sy eise dat mag met geweld oorgeneem moet word. In die media is Mbeki en Hani dikwels teenoor mekaar opgestel as interne opponente, maar uit die ANC se beleidsdokumente en meer onlangse onderhoude met ANC-leiers wil dit voorkom asof hierdie ‘n doelbewuste strategie van die ANC was. Die term “parallel paths to power” is by verskeie geleenthede ook so gebruik.

Ek wil nie voorstel dat ons die ANC-roete volg deur die pad van vrede en die pad van geweld tegelykertyd te loop nie. Inteendeel, geweld moet nie eers ‘n opsie op die tafel wees nie. Wat ons wel moet doen, is om ‘n aktivistiese been met passie en entoesiasme te dryf, terwyl ons ook ‘n selfdoenstrategie met dieselfde entoesiasme aanpak.

Aktivistiese been

Wat die aktivistiese been betref moet ons die druk nou laat toeneem. Ons moet kennis neem van die feit dat die regerende party nougeset die teorie van die sogenaamde “balance of forces” toepas. Volgens hierdie teorie moet die magsbalans altyd in ag geneem word wanneer besluite geneem word. Rolspelers wat lig in die broek is, kan geïgnoreer word, maar rolspelers wat ‘n magsbasis opgebou het en hulleself laat geld – wat die vermoë het om die openbare diskoers te beïnvloed, moet geakkommodeer word.

Ons moet besef dat ons suksesse op hierdie stadium van die stryd nie gemeet word aan die onmiddellike reaksie op ons optrede nie, maar aan die vraag of ons daarin slaag om steun te mobiliseer en bewus te maak. Die protesoptog van 1 Desember 2012 het nie misluk omdat die minister geweier het om die memorandum te ontvang nie. Inteendeel, dit het juis geslaag, omdat ‘n bykans volblad artikel oor die realiteit van plaasmoorde in die daaropvolgende week in ‘n Londense koerant gepubliseer is. Dit het geslaag omdat die minister daarna gekonfronteer is deur ‘n stortvloed medianavrae oor waarom hy hom nie aan die slagoffers van plaasmoorde steur nie.

Ons taak is nou om die druk vol te hou, om momentum te bou, om nie op kitsoplossings staat te maak nie, om die wêreld bewus te maak van die realiteit en om in die proses ons eie steun te bou. Ons strategie moet wees om alles in ons vermoë te doen om die regering van die noodsaaklikheid van die prioritisering van plaasmoorde te oortuig, maar om nie moed te verloor wanneer dit lyk of hul nie belangstel nie. Wanneer hul nie belangstel nie moet ons sorg dat hulle in die verleentheid gestel word oor hul gebrek aan optrede, in die plaaslike media en selfs in die internasionale media indien nodig.

Ons moet die goue reël van Christelike aktivisme in ons optrede toepas. Dit is dat ons optrede altyd gerig moet word deur dit wat moreel regverdigbaar is. Wat egter belangrik is, is dat morele regverdigbaarheid en politieke korrektheid maklik met mekaar verwar word, terwyl dit in die praktyk dikwels ver van mekaar verwyder is. Die ware toets van integriteit is of ons bereid is om op te tree en standpunt in te neem wanneer ons van harte oortuig is dat ons optrede moreel regverdigbaar is, selfs al besef ons dat dit nie polities korrek sal wees nie.

Ons moet besef dat bewusmaking en steunwerwing nou belangriker is as ‘n skoktaktiek. Ek laat my nie vertel dat daar massas Suid-Afrikaners is wat nog nooit van plaasmoorde gehoor het nie en deur my werk by AfriForum weet ek dat meningsvormers in die buiteland bewus is van mense se klagtes in hierdie verband. Ons uitdaging is om hulle met betroubare inligting en getoetste navorsing in te lig van die realiteite, eerder as om te poog om propaganda te pleeg deur byvoorbeeld die statistieke op te blaas of onsensitiewe foto’s te versprei. Die koue feite is reeds erg genoeg.

Selfdoenbeen

Terwyl ons volstoom met die aktivistiese been van die veldtog voortgaan, moet ons besef dat ons heil nie kan afhang van die regering se optrede nie. Ons sal ook verantwoordelikheid vir ons eie veiligheid moet neem.

Terwyl ons met reg kwaad is oor die feit dat die kommandostelsel in 2003 afgeskaf is en die regering, tien jaar later nog nie sy belofte om ‘n alternatiewe struktuur in die plek hervan te skep, nagekom het nie, is ons geneig om die rol wat ons vandag met betrekking tot misdaadvoorkoming kan speel te onderskat.

AfriForum het ‘n omvattende navorsingstuk in samewerking met die misdaadkenner, prof. Rudolph Zinn oor die impak van gemeenskapsveiligheidsnetwerke gedoen. Die bevindings was verbasend. Daar is bevestig dat daar ‘n legio aktiwiteite is wat deur gemeenskappe uitgevoer kan word om beter na hul eie veiligheid om te sien, net soos wat die kommando’s destyds gedoen het. Hierdie aktiwiteite is geheel en al wettig en word nie in kompetisie met die polisie gedoen nie, maar ter ondersteuning van die polisie. Die navorsing het ‘n reeks gevallestudies onderdoek en bevind dat, daar waar gemeenskappe hulle in sulke netwerke georganiseer het, dit ‘n drastiese impak op misdaad in hulle gebied gehad het. Die impak was so groot, dat dit selfs die gemeenskapsgevoel en die waarde van hul eiendom laat styg het.

In ‘n land waarin die departement van polisie nie die wilskrag of kapasiteit het om ‘n daadwerklike oplossing te bied nie, moet ons sorg dat elke gemeenskap regoor Suid-Afrika in gemeenskapsveiligheidsnetwerke georganiseer is. Hierdie netwerke moet die verantwoordelikheid opneem om misdaadinligting in te samel, patrollies te ry, misdaadsvoorkomingsinisiatiewe uit te voer, paraatheid op te skerp, opleiding te doen en selfs om burgerlike arrestasies uit te voer waar nodig.

Een van die gemeenskapsveiligheidsnetwerke waarmee AfriForum in verbinding getree het, het gesê dat hulle reeds bykans 50% van die polisie se verantwoordelikhede moes oorneem. Dit sluit selfs die toepassing van munisipale bywette in.

Terwyl ons die inisiatief neem om misdaad in ons gemeenskappe te bekamp, moet ons as gemeenskappe ook saamstaan en bystand bied, daar waar mense wel deur plaasaanvalle geraak is.

Ons het nie die luukse van rusbanke nie. Wanneer die regering nie bereid is om sy basiese verantwoordelikheid om sy mense te beskerm na te kom nie, moet ons self die inisiatief neem om die onvervreembare regte op lewe, privaatheid, liggaamlike integriteit en menswaardigheid te beskerm.

Hierdie stryd is ook nie uniek nie. Op 16 Junie 1900 het Lord Roberts Brittanje se verskroeide aardebeleid aangekondig – ʼn beleid wat die dood van meer as 30 000 Boerevroue en -kinders veroorsaak het. In hierdie tyd het mense van dag tot dag geleef met die realiteit van moord, maar steeds het hul nie die handoek ingegooi nie. Hulle het spreekwoordelik gesê: “Ons onthou die wat vermoor is, en veg dan voort met die wat oor is.”

Net soos wat die generasie van die jaar 1900 vandag geprys word vir hul dapperheid en deursettingsvermoë, moet ons besef dat die generasie van 2013 oor ‘n honderd jaar van nou af ook onthou sal word vir die besluite wat ons vandag neem. Of daar eendag gesê gaan word dat ons geknak het onder die druk en nie in staat was om vir ons kinders ‘n toekoms te skep nie, of dalk dat ons voortgebou het op die voorbeelde wat generasies van dapper voorgeslagte vir ons gestel het, deur ten spyte van die omstandighede vir ons kinders ‘n toekoms te skep, hang totaal van ons af.

Oor die generasie van ouds, het die een van hul bekendste leiers, generaal De Wet, op 3 Desember 1916, in die tyd ná die oorlog, toe baie gevoel het dat hulle verslaan is, die mense moed ingepraat. Mag hierdie woorde ook vandag vir ons van betekenis wees:

“Ons staan nou op die punt om ‘n groot volk te word, of om op te hou om as ‘n volk te bestaan. Laat ons dus werk terwyl dit dag is. Laat ons ons volk opbou.”