Muur rondom Vryburg se Groot Trek-monumente geskend


Die AfriForum-tak in Vryburg het die afgelope jaar baie geld, tyd en liefde bestee daaraan om ’n behoorlike muur en heining rondom die 1938 en 1988 Groot Trek-herdenkingsmonumente op te rig. Boosdoeners het dié werk egter op 11 Desember 2018 oornag ongedaan gemaak.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland, het verbygangers die oggend van 12 Desember opgemerk dat die muur voor die monument omgegooi is en die AfriForum-tak daarvan ingelig. Dit is nog onduidelik of dit ’n geval van diefstal of slegs vandalisme was. Die palissade wat aan die voorkant aangebring is, is uitgebreek en stukke van die muur is omgegooi of omgetrek.

“Inwoners is verslae oor die voorval. Taklede, wat heelwat aan die projek bestee en daarin belê het, is sprakeloos gelaat. Ons wou só graag ons erfenis bewaar sonder om enigiemand anders se erfenis te beskadig of iets van hulle te ontneem,” sê Pretorius.

Die AfriForum-tak in Vryburg bied ’n beloning aan vir die eerste persoon wat inligting verskaf wat tot die arrestasie en suksesvolle vervolging van die vandale lei. Skakel vir Dries van Wyk by 082 944 7087.

Soortgelyke plasings