|

Munisipaliteit swig en begin konsentrasiekampkerkhof herstel

 

Die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit het tot aksie oorgegaan en skriftelik onderneem om die konsentrasiekampkerhof in Kroonstad te herstel ná volgehoue druk deur AfriForum.

Dít volg nadat die burgerregte-waghond die munisipaliteit op 25 Februarie 2020 op terme geplaas en 48 uur gegee het om ’n lek te herstel wat veroorsaak het dat die kerkhof met riool en ander afvalwater oorstroom is.

Die munisipaliteit het op 27 Februarie begin om die lek oop te grawe sodat hulle dit kan herstel. AfriForum het egter die begraafplaas weer op 2 Maart besoek en opgemerk dat daar nog baie werk is wat gedoen moet word. ’n Dringende vergadering is met die munisipale bestuurder versoek.

JP Nel, distrikskoördineerder vir die Hoogland, het gister met Portia Tshabalala, waarnemende munisipale bestuurder van die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit, vergader. Volgens Nel het die munisipaliteit skriftelik onderneem om die fout te herstel en die terrein teen 6 Maart 2020 skoon te hê, waarna verdere rehabilitasiewerk aan die terrein gedoen sal word. Die munisipaliteit het ook verskoning gemaak vir die negatiewe invloed wat dié storting op die omgewing het.

Die lek is vermoedelik veroorsaak deur ’n plaaslike toiletpapierfabriek wat deur die munisipaliteit toegelaat is om die rioolstelsel in die omgewing te laat verstop.

Groot skade is aan dié konsentrasiekampkerkhof, tans een van die grootste historiese begraafplase in die land, aangerig. In 1901 het die Kroonstad-konsentrasiekamp reeds sowat 2 500 mense gehuisves en in die kampkerkhof is meer as 2 000 kinders, vroue en bejaardes begrawe.

“AfriForum sal aanhou om druk op die munisipaliteit te plaas om dié krisis op te los. Indien die munisipaliteit versuim om by die ooreengekome datums te bly, sal AfriForum strafregtelike klagtes teen die munisipaliteit indien,” sê Nel.

Die VF Plus het verlede jaar in September met Erfenisdag die terrein help opknap en het ook strafregtelike klagtes teen die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit ingedien. Die FAK het ook ’n fonds begin om die begraafplaas te omhein en sodoende te beveilig.

AfriForum se Kroonstad-tak nooi die gemeenskap uit om by die organisasie se toekomstige projekte en aksies betrokke te raak. Sluit by AfriForum aan en word deel van die oplossing: SMS “Kroonstad” na 31481 (R1).

Help AfriForum om verdere druk op die munisipaliteit te plaas om ons erfenis te herstel. Gee ons jou stem deur dié petisie in te vul:

Kroonstad se konsentrasiekampbegraafplaas

 

Soortgelyke plasings