Munisipaliteit herstel rioolaanleg ná druk deur AfriForum


Die Lim 368 Plaaslike Munisipaliteit het onlangs die rioolaanleg in Naboomspruit begin herstel ná volgehoue druk deur die plaaslike AfriForum-tak. Dié tak het op 13 Augustus vanjaar ’n skrywe aan Mapule Mokoko, die munisipale bestuurder, gerig om die probleem onder haar aandag te bring.
AfriForum het ook al in Junie 2016 en Januarie 2017 klagtes oor rioolstorting by die munisipaliteit gaan lê en strafregtelike klagtes by die SAPD teen die voormalige munisipale bestuurder aanhangig gemaak oor die besoedeling.

Volgens Phillip van Staden, voorsitter van AfriForum se Naboomspruit-tak, is die herstelwerk ’n daadwerklike stap in die regte rigting. “Ons is dankbaar vir die vinnige terugvoer wat ons vanaf die munisipaliteit ontvang het en dat ons kan sien dat hulle die probleem aanpak. Ons hoop dat ons in die toekoms steeds sulke vinnige optrede van hulle kant af sal kry.”
Hoewel die rioolaanleg tans herstel word, het Van Staden bygelas dat AfriForum sal volhou om druk te plaas op owerhede wat versuim om hulle pligte na te kom. “AfriForum sal die situasie dophou en toesien dat die munisipaliteit sy pligte nakom. Ons kan nie toelaat dat mense se gesondheid in gedrang geplaas word weens rioollekkasies in die strate van Naboomspruit nie,” sê Van Staden.

Soortgelyke plasings