--> -->
Spyskaart +

Munisipale krisis noodsaak selfbestuur

Mei 22, 2018 deur Admin

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum

Sedert Cyril Ramaphosa die leisels by Jacob Zuma as President oorgeneem het, het daar werklik ʼn nuwe opregtheid oor die land se probleme ingetree.

Wyd en syd word die land se probleme deur die nuwe ministers en president erken. (Of dit uit grootmoedigheid is of uit selfbelang om iemand anders te blameer vir hul toekomstige nieprestasie, kan lank oor bespiegel word.) Helaas is dit omtrent waar dit stop. Hierdie geweeklaag bly net ’n geneul omdat daar nie werklike oplossings gebied word nie, en die “oplossings” wat gebied word, is reeds beproef en het juis baie van die probleme geskep waarmee ons nou worstel. Die ANC bly maar die ANC en ongelukkig gaan hulle, alleen of tesame met partye wat hul ideologie deel, nog lank die politieke septer op alle regeringsvlakke swaai.

Nêrens is dit meer waar as in die sfeer van plaaslike regering nie. Munisipaliteite is die regeringsvlak wat die naaste aan die mense is, en plaaslike kwessies is veelal die belangrikste aangeleenthede vir die mense in ’n bepaalde dorp of stad.

Dit is juis die selferkende krisis in hierdie sfeer wat tans hewig onder die soeklig is en wat ons nuut aangestelde ministers kwansuis laat sweet. Nhlanhla Nene, minister van finansies, en Zweli Mkhize, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het albei onlangs erken dat sowat die helfte van die land se landelike munisipaliteite nie genoeg geld het om basiese dienslewering deur te voer nie. Albei aanvaar nou die feit dat slegs 7% van die munisipaliteite funksioneel is, en Nene het ernstige bedenkinge oor selfs die metro’s se finansies en bestuur uitgespreek.

Uit die 112 munisipaliteite met te min fondse om selfs aan die minimumstandaarde te voldoen, is slegs twee in die Wes-Kaap geleë. Van die res is 24 in Limpopo geleë, 13 in Noordwes en 22 in die Noord-Kaap. Daar is selfs vier Gautengse munisipaliteite op hierdie lys.

Die Grondwet wys sekere funksies aan munisipaliteite toe en lê hulle sekere pligte op, maar dis regtens en de facto onderhewig aan die finansiële en administratiewe kapasiteit van ’n bepaalde munisipaliteit. Gaan lees gerus Artikel 152 van die Grondwet, wat onder meer vereis dat munisipaliteite dienste volhoubaar aan gemeenskappe lewer, maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling bevorder en ’n veilige en gesonde omgewing skep. Munisipaliteite word egter daarna slegs gelas om “te streef” om, binne hul vermoëns, hierdie doelwitte te verwesenlik.

Ek dink die meeste mense wat nou hierdie artikel lees, kan getuig dat hul munisipaliteit nie aan hierdie wetlike standaarde voldoen nie. Hulle hoef ook nie daarin te slaag nie; hulle moet maar net probeer om hierdie doelwitte na te streef.

Daar is egter ook ’n ander interessante (en minder bekende) verpligting wat die Grondwet in Artikel 152(1)(e) aan munisipaliteite oplê, en dit is om gemeenskappe en gemeenskapsorganisasies by plaaslikeregeringsaangeleenthede te betrek. AfriForum as gemeenskapsorganisasie pak deur sy takstrukture reg oor die land juis hierdie probleme trompop en het al tallose suksesse bereik. Die Potchefstroom-tak het in 2017 byvoorbeeld meer as 2 000 slaggate self reggemaak. Watergehalte is in verskeie dorpe verbeter sedert AfriForum betrokke geraak het en AfriForum-buurtwagte hou gemeenskappe reg oor die land heelwat veiliger as wat die polisie alleen dit kan doen.

Hierdie lofwaardige aksies vind baie keer in ’n lugleegte van staatsverval plaas en soms ook met die uitdruklike teenkanting en vyandigheid van die staat se kant af. Hulle verontagsaam dus botweg die bovermelde grondwetlike artikel. Maar soos hierdie voorbeelde wys, móét en kán dit gebeur. Baie mense kla gereeld by my dat ons boonop selfstandig moet wees terwyl ons reeds baie belasting betaal. Dit is geensins ongeldige woede nie en ons het ’n reg om daaroor kwaad te wees, maar dit help nie om net kwaad te wees en te wag vir iets om te gebeur nie. En om te wag en hoop dat ’n hoër regeringsvlak ingryp, is ook ’n ydele hoop, want baie provinsies se regerings asook nasionale departemente is ewe wanfunksioneel, korrup en ongevoelig. Daarom moet ons as ’n gemeenskap opstaan en saamstaan om hierdie uitdagings volhoubaar deur selfbestuur hok te slaan, want die alternatief is agteruitgang en selfs ondergang.